Die Vaaldriehoek se eeue-oue geskiedenis
Kyk jy vandag na die relatief digbeboude Vaaldriehoek met sy duisende huise, sakegeboue en netwerk van hoofweë en munisipale paaie, sal min mense kan glo dat dit tienduisende jare gelede hoofsaaklik 'n moerasgebied was waar primitiewe mense 'n bestaan gemaak het
Kyk jy vandag na die relatief digbeboude Vaaldriehoek met sy duisende huise, sakegeboue en netwerk van hoofweë en munisipale paaie, sal min mense kan glo dat dit tienduisende jare gelede hoofsaaklik ‘n moerasgebied was waar primitiewe mense ‘n bestaan gemaak het.
Vandag vorm die Vaaldriehoek die stedelike komponent van die sogenaamde Vaalrivierkompleks, wat ‘n oppervlakte van 3 300km2 beslaan. Dit is ‘n gebied wat vanaf die Kliprivier in die noorde tot by Sasolburg in die suide en vanaf Loch Vaal in die weste tot digby Villiers in die ooste strek.
Die Nasionale Bounavorsingsinstituut het dekades gelede reeds ondersoeke oor die Vaaldriehoek se grondgehalte gedoen, waaruit geblyk het dat Vereeniging op ‘n gebied ontstaan het wat duisende jare gelede ‘n moerasagtige meer was wat deur die Vaalrivier gevoed is. Dit was die ideale omstandighede vir die vorming van potklei en steenkool, wat later jare die ruggraat van die Vaaldriehoek se aanvanklike industriële bedrywighede gevorm het.
Volgens navorsing wat in 1992 deur die historikus prof. Piet Prinsloo gedoen is, het die voorkoms van andesitiese lawa in hierdie omgewing waarskynlik tot gevolg gehad dat primitiewe mense hulle in die Steentydperk hier gevestig het. Die fyn grein van hierdie lawa was besonder geskik om hul klipwerktuie te vervaardig. Van dié primitiewe werktuie is in die moderne tyd hier ontdek en word in die Teknorama-museum in die stad bewaar.
Die omvangryke minerale hulpbronne wat in hierdie omgewing voorkom, het uiteindelik tot die vestiging van Vereeniging en later ook tot die ontstaan van ander Vaaldriehoekse dorpe gelei. Steenkoolneerslae is in 1878 deur die geoloog, George William Stow, aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier se oewer ontdek. Vereeniging se steenkoolveld vorm deel van die sogenaamde Vereeniging-Clydesdale-steenkoolveld, wat van Kookfontein, noord van Vereeniging, tot die myngebiede van Cornelia-suid, Clydesdale (Coalbrook) en Sigma, suid van die Vaalrivier, strek.
Die waarde van Vereeniging se klei as ‘n vuurvaste materiaal is vroeg reeds besef, want in 1891 is vuurkleistene al op die plaas Leeuwkuil vervaardig. Dit was die begin van wat later Vereeniging Refractories sou word. Die noodsaaklikheid van vuurvaste klei het nog sterker na vore gekom met die vinnige ontwikkeling van die yster- en staalnywerheid, wat mettertyd ‘n hoofrol in Vanderbijlpark se ontstaan sou speel.
* Vereeniging is die die oudste van die Vaaldriehoek se dorpe en is in 1882 gestig. Meyerton is in Augustus 1892 geproklammeer en Vanderbijlpark in 1949. Sasolburg se stigting het in 1954 gevolg.
Dié berig het in Vaalweekblad se uitgawe van 27 Maart 2019 verskyn as deel van die koerant se 55 Jaar Gedenkbylae. As jy Deel 1 van die bylae misgeloop het, hou Vaalweekblad dop vir Deel 2, wat later hierdie maand verskyn.



