‘Engele’ van ons haweloses
VANDERBIJLPARK. - Het jy al gewonder hoe en waar het die lewe vir haweloses skeef geloop.
VIDEO EN FOTO’S – JANNIE DU PLESSIS (Vaalweekblad)
VANDERBIJLPARK. – Het jy al gewonder hoe en waar het die lewe vir haweloses skeef geloop.
Jy sien hul oral in die dorp. Soms langs die pad en ander kere op hul matrasse in die middedorp. En dan is daar die wat ‘n dak oor die kop het maar steeds behoeftig is. Volgens pastoor Corrie van Staden oordeel God nie, en word jou pad na God nie bepaal deur waar jy bly, wat jy eet, wat jy ry of wie jou vriende is nie. Pastoor Corrie en verskeie helpers het die groot behoefte van hierdie hawelose mense raakgesien en met ‘n blink plan vorendag gekom. Buiten dat hulle weekliks in Vanderbijlpark en Vereeniging die haweloses van kos en die bediening van die Woord voorsien, het hy ‘n sleepwa laat bou waarin die haweloses ten minste een maal per week ‘n lekker warm stort kan geniet.
En dis nie sommer net ‘n sleepwa nie. HIerdie sleepwa bevat drie storte met warm water en die sykant is toegerus met ‘n wit skerm wat dan met behulp van ‘n projektor, video’s en musiek aan die haweloses verskaf tydens die bedieninge elke week. Elke stort is privaat en seep en handdoeke word voorsien, wat dan weer gewas word vir die volgende week.
Elke Woensdag om 18:00, kan die sleepwa, kragopwekker, projektor en kos gesien word. Die haweloses is baie dankbaar vir hierdie voorreg. Vir twee ure lank elke week kan hulle lekker stort, sing een dans. Na pastoor Corrie se bediening word daar vir hulle Christelike en inspirerende video’s gewys. Die hoogtepunt van die aand is waarskynlik die lekker bord kos wat hulle ook kry. Geen
diskriminasie word gemaak en swart, wit en selfs gesinne met kinders wat deur die lewe eenkant geskuif is, staan hand aan hand en loof die Here vir ‘n slaapplek (al is dit op straat), ‘n warm stort (al is dit een keer per week), en ‘n lekker bord ordentlike kos.
Hierdie weldoeners kan beskryf word as God se ‘engele’ om vir selfs die haweloses en mismoediges, te sê dat Hy hulle ook liefhet.




