Onpadwaardige voertuie elke oggend ‘n groot probleem hier
"Dis erg as jy om 'n draai kom en ewe skielik is 'n trok sonder ligte voor jou in die donker"
Kassie Jacobs skryf:
As mens so lees oor die ongelukke is dit weens ongelooflik swak padreëls. Die verkeersmense is meer bekommerd daaroor om spoedkameras op te sit en lekker onder ‘n boom of brug te slaap.
Ek is elke oggend vanaf 04.30 op die R59-hoofweg op pad na Kempton Park en julle sal verbaas wees hoeveel vragmotors en motors is onpadwaardig. Maandag het ek 12 trokke waarvan een Imperial is, sonder agterligte gekry en sonder voorligte, dan ry hulle met hul noodligte aan. Dinsdag het ek 8 trokke gekry sonder ligte en 4 motors. Nou, vandag Donderdag, 9 trokke sonder ligte. Dis erg as jy om ‘n draai kom en ewe skielik is ‘n trok sonder ligte voor jou in die donker.
Taxi’s – 1 voorlig en geen agterligte. Nou, is dit nie net so gevaarlik as spoed ook nie? Dit is mos vir die verkeersmense meer werk om voertuie voor te keer om ‘n algemene padwaardigheidstoets te doen. Ek kan nie onthou wanneer laas het iemand my voorgekeer en my gevra om na my ligte, flikkers en remme te kyk nie, seker 20 jaar terug.
Verkeersmense, skrik bietjie wakker en gaan staan bietjie op die hoofroetes en los bietjie die spoedkameras ook vir ‘n slag.



