Roudiens vir pa en seun word Maandag 13 Mei gehou
Roudiens vir pa en seun word Maandag gehou
OPGEDATEERDE BERIG – VAALWEEKBLAD 8 MEI 2019 bls 3
Die roudiens van Shaun Locke (30) en hul seuntjie Arlo (4), word Maandag 13 Mei om 11:00 vanuit die AGS Drie Riviere gehou.
SASOLBURG. – Die R59 snelweg het Sondag (5 Mei) die lewe van twee mans en ‘n klein seuntjie geëis.
Die ongeluk het net voor 17:00 op die lang draai net voor Vaalpark in die rigting van Sasolburg gebeur.
Die Locke-gesin was in hul wit Opel Astra vanaf Vereeniging na Shaun se pa, Piet Locke, in Parys onderweg toe die ongeluk gebeur het. Shaun en Arlo is op die toneel dood verklaar, terwyl Vaal Emergency Care (VEC) vir Rianca na die Vaalpark-hospitaal geneem het vir behandeling.
Die bestuurder van ‘n wit Toyota Quest, Stanley Chauke (41), is op die toneel deur paramediese personeel behandel, maar is oomblikke later oorlede. Sy passasier, ‘n vrou, het ligte beserings opgedoen en was baie geskok.
ER24, Netcare 911 en VEC, asook die Sasolburg-polisie, die brandweer en verkeerspersoneel was op die toneel. Die verkeer het vir ‘n tyd lank opgehoop terwyl forensiese deskundiges foto’s geneem en opmetings gedoen het.
Die ongeluk is vermoedelik ‘n gedeeltelike kop-teen-kop-botsing en sal deur die Sasolburg-polisie ondersoek word.
Volgens voorlopige inligting het die bestuurder van die Toyota die sperstreep verontagsaam en wou voertuie verbysteek toe die ongeluk gebeur het.
Volgens ‘n familielid van die Locke-gesin het Rianca Maandag ‘n operasie aan haar hand ondergaan, en was gister steeds onder verdowing. Sy sou moontlik laat gistermiddag Dinsdag 7 Mei ontslaan word. Rianca het buiten ‘n gebreekte gewrig, ook ‘n ligte borsbesering opgedoen. Rianca se seun Freddie uit ‘n vorige huwelik, was ten tyde van die ongeluk nie saam met die gesin nie.





