“Dit was die langste twee ure van my lewe”
Dokter vertel van groot stryd om verdrinkte seuntjie se lewe te red

Ouers en bure het reg opgetree, sê dokter
VEREENIGING. – Vir dr. Tanya Nell, ‘n internis met ‘n praktyk by die Midvaal Private Hospitaal, was die ure wat sy deurlopend telefoniese leiding van die pediater, dr. Aurelie Gerin af gekry het om noodbehandeling op Liam Snow toe te pas, die langste twee ure van haar lewe. Liam is op 5 Mei in die hospitaal opgeneem nadat hy in sy ouers se swembad geval en moontlik langer as 5 minute lank sonder suurstof was. Hy was blou en het geen teken van lewe getoon toe hy by die hospitaal aangekom het nie.
“Die twee ure wat ek hom behandel het, was die langste ure in my lewe. Ek het besef enigiets kon enige tyd skeefloop,” sê dr. Nell.
Sy skryf die goeie uiteinde van Liam se verhaal toe aan die vinnige optrede van sy ouers en bure, die flink optrede van die ongevalledokter en -personeel, asook die uitstekende en volgehoue spanwerk in die ongevalle-eenheid.
“Die optrede van Liam se ouers en bure was 100% korrek deur nie vir die ambulans te wag nie en hom dadelik self in te bring hospitaal toe.
“In geval van verdrinking is tyd van kardinale belang. Indien Liam minute later by ons aangekom het, sou hy moontlik nie gered kon word nie, of sou hy ernstige breinskade opgedoen het,” sê dr. Nell.
Mnr. André Joubert, bestuurder van die Midvaal Private Hospitaal, het die span wat Liam se lewe gered het, geloof vir hul flink optrede.
Liam se ouers is ook oorstelp van dankbaarheid teenoor almal wat gehelp het om hul seuntjie uit die dood terug te ruk.
Lees ook die vorige berig:
VEREENIGING. – Die paniek wat ‘n ouer beleef as jy jou kleutertjie blou en leweloos in ‘n swembad sien, is iets wat Bradley en Louwrika Snow geen ouerpaar toewens nie. Dít is wat die Snow-egpaar op 5 Mei self moes deurgaan nadat hul kleuterseuntjie, Liam, in hul swembad geval en klinies verdrink het.
“Wat dit so skrikwekkend maak, is hoe vinnig alles gebeur het… letterlik onder ons oë terwyl ons gesit en kyk het hoe die kinders buite speel,” sê Louwrika.
Sy en haar man het Sondagmiddag, 5 Mei omstreeks 16:15 saam gesit en ontspan terwyl hulle hul kinders, Kaitlyn (byna 5) en Liam (3) in die tuin dopgehou het. Hul aandag moes vir ‘n paar oomblikke van die kinders af weggelei gewees het – net lank genoeg vir Liam om in die swembad te val sonder dat hulle dit gehoor of gesien gebeur het.
Toe hulle na ‘n paar minute besef dat hulle net vir Kaitlyn sien en nie meer vir Liam nie, het hulle hom dadelik begin soek. “Ek het hom met sy gesiggie na onder in die swembad sien dryf, hom uit die water geruk en aanhoudend geskree,” sê Louwrika. Liam was reeds blou en het nie asemgehaal nie. Bradley, wat jare gelede ‘n noodhulpkursus gedoen het, het dadelik kunsmatige asemhaling begin toepas.
Louwrika het ‘n ambulans probeer bel maar kon nie deurkom nie.
“Die bure het my geskree gehoor en daarin geslaag om ‘n ambulans te ontbied. Ons het besef Liam het dadelik professionele hulp nodig, maar het nie geweet hoe lank die ambulans gaan neem om te kom nie. Ons buurman, Paddy Rogan, het my en Bradley en Liam toe met sy eie motor Midvaal Private Hospitaal toe gejaag, terwyl sy vrou en ander bure by Kaitlyn gebly het. Bradley het op pad hospitaal toe onophoudelik noodbehandeling op Liam toegepas, maar ons kon nie hoor of sien dat hy asemhaal nie,” sê Louwrika.
Met hul aankoms by die hospitaal het van die personeel hulle by die voertuig ontmoet en Liam dadelik in die ongevalle-afdeling ingeneem, waar dr. Eckehard Hambrock aan diens was. Die seuntjie het met sy aankoms geen polsslag gehad nie en ook nie asemgehaal nie. Menslik gesproke was hy reeds dood.
Dr. Hambrock en die ongevallepersoneel aan diens het dadelik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin en na ’n rukkie ’n polsslag gekry. Klein Liam was egter nog lank nie uit die moeilikheid nie.
Dr. Tanya Nell, wat sedert Januarie vanjaar as internis by Midvaal Private Hospitaal praktiseer, was besig met haar rondtes toe suster Hannetjie van Deventer, die eenheidsbestuurder vir die naweek, haar geroep het om dringend in Ongevalle te kom help. Met dr. Nell se aankoms daar, was dr. Hambrock reeds besig om Liam te intubeer. In daardie stadium was tyd ’n kwessie. Dr. Nell het besef dat daar nie tyd was om vir ‘n pediater te wag om die seuntjie te behandel nie. Sy sou self moes inspring as sy dié lewetjie wou help red. Sy het dadelik ‘n vriendin, dr. Aurelie Gerin, ’n pediater van Sandton, geskakel om aanwysings vir verdere behandeling te vra. Dr. Gerin het dr. Nell toe vir die volgende twee ure stap-vir-stap telefonies met Liam se behandeling gelei terwyl ander personeel solank die kleutertjie se oorplasing na Garden City Hospitaal gereël het. Liam was na twee ure se intensiewe behandeling gereed om per helikopter na Garden City oorgeplaas te word, waar dr. Miles Bartlett, wat onder andere in sulke verdrinkinggevalle spesialiseer, op hom gewag het. Midvaal-hospitaal se personeel het dié oorplasing in ‘n rekordtyd gereël.
Liam het die afgelope twee weke uitstekende vordering in die hospitaal gemaak en is Sondag ontslaan. “Ons kan nog skaars glo dat die seuntjie wat ons twee weke gelede leweloos uit die swembad gehaal het, nou weer op-en-wakker en terug in ons huis is,” sê sy verheugde ma. Sy voeg by dat dokters geen teken van breinskade kon vind nie en dat Liam in dié stadium ook nie verdere rehabilitasie benodig nie.



