EntertainmentEventsLifestyleLocal newsNationalNewsSponsored

Die breine agter SA se grootste buitelug-expo

Op 1 en 2 Junie wag daar weer eindelose pret by Malonjeni Guest Farm buite Vereeniging, waar die jaarlikse Outdoor X gehou word. Wees daar!

 

Die breine agter SA se grootste buitelug-expo

 
Retha Fitchat

Toe die eerste Outdoor X-buitelugskou op ‘n plaas net buite Vereeniging in 2013 aangekondig is, het niemand geweet wat om te verwag nie. Sou dit net nog ‘n expo wees wat met groot geesdrif begin is, maar binne ‘n jaar of twee doodloop? Toe nie! Besoekers en sakelui was oorweldig deur die fenomenale sukses van die eerste Outdoor X, wat in die afgelope sewe jaar tot die grootste van sy soort in die land gegroei het.

Die meesterbrein agter die ekspo is Quentin Versfeld, bygestaan deur sy vrou, Liezel, wat vandag die direkteure van Outdoor X is. Hulle was ‘n bloedjong egpaar van Vereeniging met ‘n passie vir die natuur en buitelewe toe Quentin in 2013 die plan kry om ‘n buiteleweskou aan te bied. Die Versfelds wou ander mense ook betrokke en lief maak vir aktiwiteite wat in die buitelug geniet kan word.

“Ons het gevoel dat baie Vaaldriehoekse mense vreeslik gedruk word deur die lewe en dat daar ‘n behoefte was aan ‘n ontspanningsgeleentheid in die buitelug. Daarby sou dit besighede ‘n kans gee om hulself te kom bemark deur die nuutste tegnologie, produkte en dienste aan die publiek te kom vertoon,” sê Liezel.

“Ons het geen ervaring gehad met die reël van enigiets nie, wat nog te sê ‘n groot expo, maar iets wat ons wél het is passie en deursettingsvermoë. En ons het van die begin af besluit, kom wat wil, ons gaan en sal hierdie maak werk,” sê Quentin.

Die paartjie het van dag een af groot gedink en moeite gedoen om die regte venue vir die ekspo te vind. “Ons het na ‘n plaas gaan soek wat reeds infrastruktuur beskikbaar gehad het, met verskillende toegangsroetes wat maklik bereikbaar vir besoekers uit verskillende areas sou wees. ‘n Plek met mooi gras, diere, en natuurlik genoeg spasie vir al ons idees,” onthou Liezel.

Toe hulle op die lieflike gasteplaas, Malonjeni buite Vereeniging op die Heidelbergpad afkom, het hulle geweet dis die regte een. Dit is maklik bereikbaar vir duisende besoekers van omliggende gebiede, daar is genoeg ruimte vir honderde topgehalte uitstallers en buitelugaktiwiteite, en boonop is daar ‘n goedversorgde, veilige veldparkeerterrein, groot genoeg vir derduisende voertuie.

Die ondersteuning wat hulle van die begin af van plaaslike en nasionale uitstallers gekry het, het hulle aangenaam verras en die getal uitstallings en besoekers groei elke jaar aan. Die Versfelds het duidelik ‘n wenresep hier beet!

Om so ‘n enorme geleentheid te organiseer is egter geen geringe taak nie. “Elke jaar bring nuwe uitdagings en mens stel hoë verwagtinge aan jouself. So, maak nie saak hoeveel jaar ons dit al doen nie, dit bly baie senutergend. Dit is die moegste moeg wat jy in jou lewe sal ervaar, maar die trots wat jy het nadat alles goed afgeloop het, is iets wat mens nie in woorde kan beskryf nie,” sê Liezel. Die Versfelds sê die bevredigendste deel is die sukses agter Outdoor X: “…die ongelooflike lekker atmosfeer wat daar op die plaas is, en om te hoor hoe goed ons uitstallers gedoen het as hulle ons agterna oor-en-oor bedank.”

* Sakeondernemings of individue wat meer oor Outdoor X wil uitvind, kan ‘n e-pos stuur na quentin.outdoorx@gmail.com of liezel@outdoorx.co.za, of na die organiseerder Leandri Meyer by leandri@outdoorx.co.za, of Shuan Stapelberg van Verkope by sales@outdoorx.co.za of info@outdoorx.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button