Suster Elsabé vier 50 jaar in verpleegberoep
'Verpleging is werklik ‘n passie vir my. Alle eer aan Hom wat my die talent gegee het'

Suster Elsabé vier 50 jaar in verpleegberoep
VEREENIGING. – Internasionale Verpleegstersdag, 12 Mei, is Sondag wêreldwyd gevier ter ere aan verpleegpersoneel wat hul talente en kennis met toewyding in die versorging van hul pasiënte inspan.
Florence Nightingale, wat op 12 Mei 1820 in Florence, Italië gebore is, was een van die bekendste verpleegsters ooit. Hoewel sy uit ‘n welgestelde familie gekom het en nie nodig gehad het om te werk nie, het sy haar geroepe gevoel om ‘n verpleegster te word.
Sy het ‘n reusebydrae op verskillende terreine van die verpleegberoep gelewer en tydens die Krimoorlog in Europa die titel “Lady with the Lamp” gekry. Florence het later die Nightingale-fonds gestig en die eerste opgeleide verpleegsters het op 16 Mei 1865 begin werk. Sy is in 1910 in die ouderdom van 90 in haar slaap oorlede.
Net soos Florence Nightingale destyds, is daar vandag steeds duisende verpleegpersoneel wat hul take met hart en siel uitvoer. Een van hulle wat reeds met 50 diensjare kan spog, is suster Elsabé Steyn van die Midvaal Private Hospitaal in Drie Riviere.
Sy sê dit is met groot nostalgie wat sy op 1 April vanjaar na haar loopbaan van die afgelope vyf dekades kon terugkyk. Sy het op 1 April 1969 haar opleiding in algemene verpleging begin en dit in 1972 voltooi. Daarna het haar opleiding in Verloskunde gevolg (1974), Bejaardesorgverpleging (1981), Gemeenskapsverpleegkunde (1995) en Ortopedie (1997).
Haar aanvanklike opleiding het sy in die destydse Vereeniging-hospitaal deurloop en Bejaardesorg by die Departement van Gesondheid en Weskoppies voltooi.
Haar Ortopedie-opleiding het sy aan die Ann Latsky Kollege gedoen en deur die jare onder andere by tandartse en algemene praktisyns sowel as by ‘n ouetehuis gewerk. Sy was van 1989 tot 2014 aan Mediclinic Vereeniging as eenheidsbestuurder van die Ortopediese saal verbonde. Met haar aftrede het mnr. Gordon Cain, destyds hoofbestuurder van Midvaal Private Hospitaal, haar gevra om daar af te los, waar sy later die nagdiensbestuurder geword het. Sy beklee dié pos tot vandag toe. Die hospitaalbestuur het onlangs haar 50ste jaar in die verpleegberoep tydens ‘n gesellige ontbyt saam met haar gevier.
Suster Elsabé se man, Leon Steyn, met wie sy in 1974 getroud is, het haar in 2012 na ‘n kort siekbed ontval maar haar seun en dogter en hul gesinne, wat drie pragtige kleinkinders insluit, bring baie vervulling en vreugde in haar lewe.
Oor haar 50 jaar in die verpleegberoep sê sy: “Sonder my Allerhoogste en steun van familie en vriende sou ek dit seker met moeite gedoen het, hoewel verpleging werklik ‘n passie vir my is. Alle eer aan Hom wat my die talent gegee het.”
Foto onder: Suster Elsabé as joolprinses van die Vereeniging-hospitaal.


Suster Elsabé Steyn, wat onlangs haar halfeeu in die verpleegberoep gevier het. Links is sy as bloedjong verpleegstertjie gedurende haar opleidingsjare by die Vereeniging-hospitaal.



