Brand: Is dit hoe stadsraad noodgevalle ‘ernstig opneem’?
Peet Schabort, inwoner van die Deneysville, skryf n.a.v. die brand wat op 20 September 18 luukse vakansiehuise langs die Vaalrivier vernietig het: Die hantering en voorkoming van brande deur die Metsimaholo Munisipaliteit se brandweer is ‘n bron van groot kommer. Daar word onder meer beweer dat Metsimaholo sonder water opgedaag het en ook nie water …

Peet Schabort, inwoner van die Deneysville, skryf n.a.v. die brand wat op 20 September 18 luukse vakansiehuise langs die Vaalrivier vernietig het:
Die hantering en voorkoming van brande deur die Metsimaholo Munisipaliteit se brandweer is ‘n bron van groot kommer. Daar word onder meer beweer dat Metsimaholo sonder water opgedaag het en ook nie water uit die rivier of damme kon pomp nie.
Op 12 April 2011 het ek ‘n steekproef oor brandkrane in my onmiddellike omgewing in Deneysville gedoen.
Ek is by die munisipale kantore voorsien van ‘n verouderde plan waar gesê is dat die nuwe volledige een nog nie beskikbaar was nie. Ek het toe self ‘n ondersoek gedoen en ook foto’s geneem. Van die 21 brandkraanposisies op die plan was 14 krane WEG, d.w.s. ek kon geen kraan sien nie. Dus was daar sewe uit 21 krane in ‘n (hopelik) werkbare toestand waar daar boonop twee verskillende tipes koppelings gebruik is.
Dus moet die brandweerwa ook so toegerus wees.
Met die aanmelding hiervan het ‘n brandweeramptenaar met groot spoed opgedaag om ondersoek in te stel. Nou, na 53 maande is die situasie presies dieselfde. Intussen, waarvan ek bewus is, het hier ‘n grasdakhuis (Januarie 2012) en ‘n lapa afgebrand terwyl ‘n sakeonderneming ook groot skade gely het weens ‘n brand.
By laasgenoemde het die brandweer (so word beweer) glo “toegekyk” terwyl ander die brand geblus het.
Daar is gedurigdeur veldbrande op onbewoonde erwe tussen huise waar die munisipaliteit nie toesien dat gras vóór die wintermaande gesny word nie. Dit skep ‘n groot brandgevaar vir ander huiseienaars. Telkomwerkers sê dit besorg hulle hoofbrekens omdat telefoonlyne verbrand en duisende kos om te herstel.
Gedurende Augustus 2013 was daar op die hoewes aangrensend aan Vanderbijlpark ook ‘n brand met miljoene rand se skade. Na wat ek verneem van die eienaar het Emfuleni (hulle moes gehaal word want het nie geweet waar is Stephanopark nie) opgedaag met die verkeerde pype om water uit ‘n swembad op die perseel te pomp, terwyl Metsimaholo se pompe buite werking was!
Presies soos met Metsimaholo verlede Sondag.
Daar word net nie aandag gegee aan die voorkoming van veldbrande asook die instandhouding van toerusting vir effektiewe brandbestryding nie. In Vaalweekblad van Julie 2014 was daar ‘n nuusberig “Gesin se huis brand af.”
Hierdie gebeurtenis was in Sasolburg en die groot brandweerwa was in ‘n ongeluk en kon nie meehelp om die brand te blus nie. Nou is die vraag: hoeveel brande was daar voordat ‘n verouderde wa geleen is?
Met hierdie Wonderfontein-brand beweer dr. Gino Alberts, munisipale woordvoerder, dat hulle “enige noodgeval ernstig opneem”. Nee-wat dr. Alberts, ek sal eerder glo dat daar ‘n man op die maan is voordat ek jou glo. (Lees ook die redaksionele kommentaar bo).


