Klein botteltjie, groot gif!
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Om aannames te maak is ’n gevaarlike speletjie. Die 20-jarige Marga Cummings, ’n student aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal), mag miskien nie soos ‘n tipiese hamergooi-atleet lyk nie, maar moet haar nie onderskat nie. Sy mag miskien net 1.63m in haar sokkies staan en 71kg weeg, maar pond …
Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Om aannames te maak is ’n gevaarlike speletjie. Die 20-jarige Marga Cummings, ’n student aan die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal), mag miskien nie soos ‘n tipiese hamergooi-atleet lyk nie, maar moet haar nie onderskat nie.
Sy mag miskien net 1.63m in haar sokkies staan en 71kg weeg, maar pond vir pond is sy een van die beste hamergooiers in Suid-Afrika.
Sy kry eersdaags die geleentheid om haar buite die landsgrense te laat geld, wanneer sy Suid-Afrika in Julie in Italië by die Wêreld Studente Spele én by die Afrika Spele van 19 tot 31 Augustus in Marokko gaan verteenwoordig.
“Ek het gehoop om die span te haal, omdat ek verder as 60m gegooi het. Almal sê altyd ek is te klein vir hamergooi, maar dit gaan oor tegniek,” sê die derdejaar B.ED-student.
Sy word tans deur die Suid-Afrikaanse hamergooi-legende, Chris Harmse, afgerig.
“Ek het vir lank vasgehaak op 58m. Ek het geweet ek is liggaamlik gereed om verder as 60m te gooi, maar ek dink nie my kop was reg nie.”
2019 sal altyd onthou word as die jaar toe alles vir haar in plek geval het. “Ek het voor SA’s vanjaar verder as 60m gegooi en daarna het ek dit in een oefening agt keer reggekry,” sê sy.
“Die sirkel is my happy place. Wanneer ek in die sirkel klim verdwyn al my probleme en sorge. My doelwit is om tot die finale deur te dring,” gee sy te kenne.
Sy spog met ‘n persoonlike beste afstand van 61.27m en behoort tot die finale rondte by die Spele deur te dring.
Die beste afstand vanjaar in Afrika is 67m in die item vir vroue.
Hoewel Marga ‘n gebore en getoë Middelburger in die Oos-Kaap is, is die Vaaldriehoek tans haar en haar ouer broer Alan (23) se tuiste.
Haar ouboet wat homself ook as ‘n onderwyser bekwaam, is ook vir die Studente-span gekies.
Hulle liefde vir sport en onderwys is in hul bloed. “My ma en pa was baie goed in sport en daar is baie onderwysers in ons familie,” sê sy.



