Wie wil help om klein Mia te laat loop?
Baie uitdagings wag nog op vroeggebore kleinding. Ondersteun gerus die plaasjol ten bate van Mia.
Wie wil help om klein Mia te laat loop?
Baie uitdagings wag nog op vroeggebore kleinding
Klein Mia Booyens (3) is ‘n pragtige kleutertjie van Meyerton wat reeds meer terugslae in haar 3 jaar ervaar het as baie volwassenes in 30 jaar.
Sy is op 16 Januarie 2016 gebore – twee maande te vroeg – en moes daarna 45 dae in die Neonatale waakeenheid versorg word. Dokters het in dié tyd uitgevind dat sy ‘n hartdefek het. Sy het ook ‘n toestand wat haar ogies aantas sodat sy ‘n bril moet dra.
Mia het in 2017 ‘n groot hartoperasie ondergaan, waarna sy meer krag gehad het om te begin kruip, speel en praat, maar omdat daar fout is met haar voetjies en heupe, sal sy eers verskeie operasies moet ondergaan voordat sy sal kan loop, sê dokters by die Jakaranda-hospitaal.
Haar ma, Jo-lene Booyens van Kookrus, Meyerton, betaal baie van die doktersrekenings uit haar sak uit omdat van die dokters uitgekontrakteer is en nie deur die mediese fonds betaal word nie. Baie geld is egter nog nodig vir die komende operasies.
Op 13 Julie gaan ‘n fondsinsamelingsdans (“Plaasjol”) by Lalucci Party Venue ten bate van Mia gehou word sodat die kleinding haar noodsaaklike operasies kan ondergaan.
Kaartjies is beskikbaar teen R100 vir volwasseness en R50 vir kinders ouer as 2 jaar. Dit sluit ‘n spitbraai met bykosse in. Verskeie aanloklike pryse is op die spel, en daar gaan ook ‘n veiling wees waar interessante artikels soos ‘n getekende, geraamde Springboktrui gekoop sal kan word.
Ondersteun gerus dié projek. Buiten dat jy en jou gesin groot pret gaan hê, gaan jou ondersteuning ook die oulike kleinding op haar moeilike pad vorentoe help.
Meer besonderhede is beskikbaar by haar ma, Jo-lene, by 076 256 7984.



