Monnies na 11 jaar weer kampioen
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Die VUT Isak Steyl-stadion was verlede Woensdag in rep en roer met die plaaslike laerskole rugby-eindstryde wat daar beslis is. Trane van blydskap en teleurstelling het op en langs die veld vrylik gevloei. Vir baie o.13-seuns was dit die einde van ’n era, ‘n einde van kaalvoetrugby. Ondanks al die …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die VUT Isak Steyl-stadion was verlede Woensdag in rep en roer met die plaaslike laerskole rugby-eindstryde wat daar beslis is.
Trane van blydskap en teleurstelling het op en langs die veld vrylik gevloei.
Vir baie o.13-seuns was dit die einde van ’n era, ‘n einde van kaalvoetrugby.
Ondanks al die sentimentele en emosionele druk van die eindstryde het Sedibeng se kaalvoetprinse nie met die kwaliteit van spel teleurgestel nie.
In die Superliga het die Laerskool Vryheidsmonument van Vereeniging se eerstespan die rekordboeke herskryf toe hy vir die eerste keer in 11 jaar die liga gewen het. Die Monnies het Risiville in ’n rillereindstryd met 38-33 geklop. Vryheidsmonument het rustyd met 19-5 voorgeloop, maar Risiville het met ’n puik terugvegpoging in die tweede helfte gesorg dat hy enduit in die wedstryd gebly het. Die Rissies het egter baie om oor te spog met sy o.9 -en o.11-rugbyspanne wat hulle ligas gewen het. Die o.10 en tweedespan Superliga is onderskeidelik deur Laerskool Vaalpark en Laerskool Kollegepark gewen.
In die Elite-kompetisie het die Heidelberg Volkskool vir Emfulenipark met 36-26 geklop om met die titel weg te stap.
In ontwikkeling-liga het Oospark vir Leeuwspruit se o.13A-span met 12-7 geklop en in akademie-liga het Noordskool en Lumiere met 12-12 gelykop gespeel.


















