Fokus op Vaal-rioolkrisis Deel 8
Fokus op Vaal-rioolkrisis Deel 8
Peacehaven inwoners keelvol vir riool
Vaalweekblad 22 Mei bls 8

VEREENIGING. – Die pragtige bome staan groen in die oggendson, die rivier vloei rustig verby, die pers morning glory’s groei welig en die duiwe en hadidas kuier heerlik in die waterpoele.
Dit klink baie idillies, maar as jy die hele dag die reuk van rioolwater moet trotseer, is dit nie so idillies nie. Dit gee my hoofpyn en ek voel naar. Dit is vir my darem van korte duur, want ek woon nie hier nie.
Dit is egter vir die inwoners van Waterkantstraat en Charles Swartstraat in Peacehaven iets waarmee hulle elke dag moet saamleef. Op ‘n besoek aan die gebied om die rioolsituasie te ondersoek, het ek mnr. Stephan Annandale ontmoet.
Hy vertel dat hy en sy gesin sowat twee maande gelede van Kliprivier af hierheen verhuis het. “Dit is ‘n rustige gebied en ook nader aan ons werk, maar die riool is onuitstaanbaar.” Hy verduidelik dat die riool dag en nag van die bokant van die straat af loop. Dit vloei dan saam met die skoon water wat by die mangat uitborrel tot in die rivier. Hy vertel dat hy die waterlek reeds verskeie kere by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld het, maar dat niks gebeur nie. Sy buurman kontak hulle ook gereeld. Van die inwoners in Waterkantstraat het nou al slote gegrawe sodat die rioolwater nie voor hul huise moet opdam nie. Dit loop dus ook af rivier toe. Die gebied aan die rivier behoort na bewering aan ‘n privaat-eienaar en is as ‘n groenerfenisgebied geproklameer. Peacehaven was een van die eerste woongebiede in Vereeniging en die ondergrondse pype is, soos in talle ander woongebiede, nog nooit vervang nie. Verder af in Waterkantstraat, waar dit met Charles Swartstraat kruis, woon Meisie. Sy vertel dat hulle die stank nie meer kan verduur nie. Sy woon reeds sedert 2005 hier en die probleme met die riool het in Februarie verlede jaar begin. Van haar bure kan nie hul binnetoilet gebruik nie omdat die riool oorloop. Hulle moet dus die bure se toilet gebruik.
“Ons kan nie die vensters en deure oopmaak nie en kry maagpyn, kopseer en diarree van die rioolreuk, en ons hoes. “My bors is al seer van die hoes. Lede van die weermag wat by die pompstasie in Golfweg diens doen, het gesê ons moet tot Januarie wag, maar niks gebeur nie.” Sy neem my na die oorsprong van Izolde Pistorius Fokus op Vaal-rioolkrisis die probleem – ‘n rioolmangat op die hoek van die straat wat oorloop. “Jy moet sien wat kom alles hier uit – waslappe, haarsproeibottels, sykouse, onderbroekies en pampers. Ek wou nie gaan stem nie, maar toe dink ek dat ek my mense darem ‘n stem moet gee.
“Ons sukkel. Ons strate stink, is donker en vol gate. Kom ek staan hier dat ek vir die mense wys van waar die riool loop,” sê sy. Die pompstasie in Golfweg, net ‘n straat laer af, is steeds vol riool en die stank ondraaglik. Die een versperring is reeds stukkend en dit is net ‘n kwessie van tyd voor die rioolwater oor Golfweg in die rivier stroom.

met riool wat nou al sedert
verlede jaaar oorrstroom en dan
verder straataf stroom.

Pistorius

Annandale by die
rioolwater oorkant sy huis.



