Jou regte wanneer ‘n verkeersbeampte jou aftrek
Jou regte wanneer 'n verkeersbeampte jou aftrek
Die meeste van ons verkies om nie deur ʼn verkeersbeampte afgetrek te word nie, onskuldig of nie. Hulle het net daardie kol-op-die-maag uitwerking op almal. En met al die korrupsie en misdaad is ʼn mens maar skrikkerig, veral as jy vrou-alleen is of dalk selfs ʼn bejaarde. Maar weet jy wat is jou regte as jy deur ʼn verkeersbeampte afgetrek word?
- ʼn Polisiebeampte of verkeersbeampte met ʼn uniform aan het die reg om enige voertuig, enige tyd, af te trek.
- As dit gebeur, is jy verplig om jou naam en adres te verskaf indien dit gevra word, asook enige ander inligting rondom jou identiteit.
- Jy is geregtig daarop om die persoon in uniform te vra vir bewys van identiteit, aanstellingsertifikaat of amptelike dokumentasie om homself te identifiseer. Indien hulle weier, oortree hulle die Strafproseswet en enige aksie wat hulle teen jou neem word as onwettig beskou.
- Volgens die Padverkeerswet het ʼn verkeersbeampte die reg om te vra om jou bestuurderslisensie te sien.
- Jy is veronderstel om dit ten alle tye by jou of in jou motor te hê en daarom behoort dit nie ʼn probleem te wees nie.
- Verkeersbeamptes is daarop geregtig om ʼn lisensieskyfie van die motor te verwyder en die voertuig as onpadwaardig te verklaar. Die voertuig kan dalk ook van die pad verwyder word.
- Verkeersbeamptes mag jou onder geen omstandighede vir uitstaande padverkeersboetes arresteer nie, tensy daar ʼn lasbrief vir jou inhegtenisname uitgereik is. Hulle kan jou nie forseer om die boete daar en dan te betaal nie.
- Hulle kan jou nie aanhou vir ʼn uitstaande boete waarvoor daar geen lasbrief uitgereik is nie.
- ʼn Manlike verkeersbeampte mag nie ʼn vrou deursoek nie en dieselfde reël geld andersom.
- Deursoeking van en beslaglegging op jou voertuig deur beamptes mag nie sonder motivering plaasvind nie. Beamptes moet ʼn sterk vermoede hê dat jy by ʼn misdaad betrokke was en ʼn lasbrief moet reeds deur ʼn magistraat uitgereik wees vir ʼn beampte om jou voertuig te deursoek en selfs daarop beslag te lê. Dit geld nie vir amptelike padblokkades waar deursoekings plaasvind en die nodige lasbriewe reeds bekom is nie.
- Wanneer jy deur ʼn beampte gearresteer word, moet hy/sy jou onmiddellik van jou regte inlig en moet jy direk na die polisiestasie geneem word. Jy het ook die reg om ʼn afskrif van die lasbrief vir arrestasie te sien.
- Moet nooit arrestasie teenstaan nie – dit is die domste ding wat jy kan doen.
- Bly altyd in beheer, maak nie saak wat die situasie of uitlokking mag wees nie. Daar is wette wat jou regte beskerm maar slegs as jy by die reëls hou en wette nakom.
Indien jy afgetrek word en onveilig voel het AfriForum die volgende wenke:
- Skakel jou noodligte aan.
- Ry stadiger.
- Wys met jou hand dat jy met die beampte wil gesels en dat jy jou samewerking gee.
- Indien die beampte tot langs jou ry, kommunikeer dat jy nie veilig voel nie en dat jy na die naaste polisiestasie, vulstasie of veilige hawe wil ry.
- Stel dadelik jou naasbestaandes in kennis van wat aan die gang is en versoek dat hulle jou ontmoet waar jy beplan om stil te hou of waar jy besig is om te ry.
- Moenie aggressief teenoor die polisie of verkeerspolisie optree nie, wees ten alle tye hoflik.
BRONNE:
STRATLAW (Strategic Legal Advisors)
https://stratlaw.co.za/news/25-your-rights-when-stopped-by-a-traffic-officer-in-south-africa
https://www.afriforum.co.za/wat-jou-regte-polisie-verkeerspolisie-jou-aftrek/



