Talentvolle sepiester in ons midde
MEYERTON. – Hy is tall dark and handsome met ‘n innemende persoonlikheid en hope talent. Midvaal se Dihan Schoeman (20) kan sing, dans en toneelspeel … ware Hollywood-materiaal. Dié jong man is nou ook ‘n plaaslike sepiester. Hy is die nuutste lid van die gewilde Afrikaanse reeks, Binnelanders. Hy vertolk die rol van Jacques Oliver, …

MEYERTON. – Hy is tall dark and handsome met ‘n innemende persoonlikheid en hope talent.
Midvaal se Dihan Schoeman (20) kan sing, dans en toneelspeel … ware Hollywood-materiaal. Dié jong man is nou ook ‘n plaaslike sepiester. Hy is die nuutste lid van die gewilde Afrikaanse reeks, Binnelanders. Hy vertolk die rol van Jacques Oliver, Trudie Ferreira se beste gay vriend.
“Dit is die wonderlikste ondervinding. Al die akteurs is so behulpsaam en vriendelik. Met elke episode leer ek meer en raak ek meer vertroud met die karakter wat ek speel,” vertel ‘n opgewonde Dihan.
Hy praat met lof van veral akteurs Reynardt Hugo, Ben Kruger en Hans Strydom. Maar dit is sy beste maat in die reeks, die 16-jarige Daniah de Villiers met wie hy die meeste tyd spandeer.
“Net soos in die program het ek in die ware lewe baie beskermend oor haar geword. Ons is baie goeie vriende,” sê Dihan. Hulle het ook saam ‘n musiekvideo opgeneem, The Climb, wat reeds meer as 100 000 views op YouTube het.
Hierdie is egter nie die verhaal van oornag-sukses nie. Dihan het hard gewerk en baie opgeoffer om te kom waar hy nou is. “Ek moet my ouers bedank vir al die ondersteuning en opofferinge wat hulle vir my gemaak het deur die jare,” verduidelik Dihan. Sy ma is die bekende musiek-tannie van die Vaal, Heidi Schoeman.
Dihan het in ‘n huis vol van die kunste grootgeword. Hy was maar vier jaar oud toe hy vir die eerste keer begin sing en toneelspeel het. Hy was ook lid van die Colla Voce-koor wat reeds bekendes soos Refentse, Joshua na die Reën en Verona Goslett (van The Voice-faam) opgelewer het.
“My ouers verstaan die industrie. Hulle het nooit geskroom om my iewers heen te ry, en dan vir ure in die kar te wag tot ek klaar is nie.”
Dihan het ook baie ondervinding deur die jare opgedoen in teater-produksies. In 2016 as matriekleerling aan die HS Dr. Malan in Meyerton, het Dihan die ATCL-eksamen van die Trinity College London geslaag. Dit is ‘n gevorderde eksamen wat die meeste kunsstudente eers in hul derde jaar op universiteit aanpak. Hy het later ook die LTCL-eksamen geslaag wat nog meer gevorderd is.
Hoewel dit vir Dihan ‘n verrassing was dat hy met sy eerste oudisie vir ‘n TV-reeks suksesvol was, maak dit egter heeltemal sin. Hierdie soort talent kan nie misgekyk word nie en moet dadelik ontgin word. Dihan is nie seker hoe lank hy deel van die reeks sal wees nie. “Dit hang maar meestal af hoe kykers op ‘n nuwe karakter in die reeks reageer,” vertel hy. Intussen geniet hy die nuwe uitdaging in sy loopbaan en die geleentheid om ‘n rolmodel vir ander te wees.
* Dihan is ‘n talentvolle sanger wat ook sy eie liedjies skryf. Hy werk tans aan sy eerste album en hoop om dit teen volgende jaar vry te stel.



