Sasolburg groet ‘liewe, lawwe man’
‘n Bekende inwoner van die dorp, mnr. Hans le Hanie (61), is op 12 Junie omstreeks 01:30 tuis oorlede
Sasolburg groet ‘liewe, lawwe man’
SASOLBURG. – ‘n Bekende inwoner van die dorp, mnr. Hans le Hanie (61), is op 12 Junie omstreeks 01:30 tuis oorlede nadat hy die afgelope weke agteruit gegaan het weens ‘n vergrote hart.
Mnr. Le Hanie het sedert 1981 in Sasolburg gewoon, waar hy by Sasol en later by Omnia gewerk het.
Volgens sy gesin was hy ‘n familieman wat versot was op sy kleinkinders en die Here met sy hele wese liefgehad het.
“Sy hallelujas het oral opgeklink… in Pick n Pay, Checkers, Zio of enige plek waar hy sy stem kon verhef om van die Here te vertel. Vir dié wat wou luister en ook sommer vir die wat nie wou hoor nie! Hy sou enigeen help sover hy kon, selfs ten koste van homself,” sê sy seun, Hannes.
Mnr. Le Hanie se vrou, Elna, sê sy heengaan laat ‘n groot leemte in haar en hul kinders se lewe. “Ons gaan jou baie mis, my liefste lawwe man wat altyd almal wou laat lag. Ons harte is stukkend maar ons weet hy is nou waar hy die graagste wou wees,” sê sy.
Mnr. Le Hanie word buiten sy vrou, oorleef deur sy kinders, Sjaan, Koos, Hannes en Elnita, en nege kleinkinders. Hy is Donderdag uit Coram Deo-familiekerk in Oedersingel, Sasolburg, begrawe.



