Skeppingsdrang hou Anzebe aan die gang
Hanti Pretorius HENLEY-ON-KLIP. – Anzebe Wolmarans is in Volksrust gebore, maar kom vestig haar na vele omswerwinge sowat drie jaar gelede in Henley-on-Klip. Haar ma was gekant teen die feit dat sy wil skilder, maar ‘n paar jaar gelede het Anzebe die kunsdrang in haar vrye teuels gegee. Haar eerste projek was om twee motorhuisdeure …

Hanti Pretorius
HENLEY-ON-KLIP. – Anzebe Wolmarans is in Volksrust gebore, maar kom vestig haar na vele omswerwinge sowat drie jaar gelede in Henley-on-Klip.
Haar ma was gekant teen die feit dat sy wil skilder, maar ‘n paar jaar gelede het Anzebe die kunsdrang in haar vrye teuels gegee.
Haar eerste projek was om twee motorhuisdeure te skilder. “Elke kunstenaar het ‘n behoefte om te skep. Die twyfel of dit goed genoeg is bestaan nie,” sê Anzebe.
Anzebe se eerste aankope in kunswinkels het haar in verwondering gelaat. Die drang om te skep en uiting te gee aan haar emosies, kon nou ‘n werklikheid word.
Anzebe kies met oorleg akriel en gebruik groot doeke wat perfek by haar geaardheid pas. Abstrakte werke gee haar die vryheid om emosie, beweging en kleur vas te vang.
Vir haar eerste doek gebruik sy dan net rooi, geel en swart. Abstrak gaan oor tegniek, die verf doen die res.
Die vreugde om telkens wanneer hulle verhuis haar verf agter te laat was ongekend. Sy kon dan weer met oorgawe in die kunswinkels die trollie vol laai.
In Henley-on-Klip rig Anzebe vir haar ‘n ateljee in. Hier hoef sy nou nie weer op te pak en haar verf agter te laat nie.
Om vrye teuels aan jou skeppingsdrang te gee, bring verantwoordelikheid en Anzebe besef sy sal haarself moet bemark.
In elke nuusbrief en koerant wat Henley-on–Klip bied nooi sy alle kunstenaars na ‘n gratis uitstalling by Molly’s Speak Easy.
As enigste abstrakte kunstenaar staan haar werk sterk uit. Die temas by die uitstalling wissel van Goth, wêreldoorloë, Suikerbosrantjies en plaashuise. Een kunstenaar skilder geloof, hoop en liefde.
Daar is onlangs geskiedenis gemaak toe hulle hul eie Art Society wat reeds 12 lede sterk staan, gestig het. Hierdie kunstenaar is opgewonde oor die toekoms en doen graag werk op aanvraag. Anzebe kan by 083 442 2559 gekontak word.






