Goeiehoek vier 30ste markdag op die plaas!
Die 30ste Goeiehoek-kontreimark word op 9 Augustus op die plaas Bosrand in die Midvaal-gebied gehou. Die plaas is 12 kilometer vanaf Four Way Motors in Drie Riviere op die Heidelbergpad

Die 30ste Goeiehoek-kontreimark word op 9 Augustus op die plaas Bosrand in die Midvaal-gebied gehou. Die plaas is 12 kilometer vanaf Four Way Motors in Drie Riviere op die Heidelbergpad.
Annatjie du Toit, ‘n boervrou van die omgewing en flinke organiseerder van die kontreimark, nooi almal om te kom voel hoe word die winterkoue verdryf met warm plaasgasvryheid en vrolike musiek!
Die mark se 30ste aanbieding word om 10:00 die oggend met ‘n kort, aanskoulike dankiesê-seremonie gevier.
Bo en behalwe die groot verskeidenheid tuisgebak en ander tuisvervaardigde artikels, tuinbou en kuns, is daar opwindende nuwe toevoegings tot die mark.
‘n Wit olifantstalletjie met winskopies van enigiets waaraan jy kan dink, gaan ‘n fees vir die gebore skattejagter wees. Kom proe regte plaasbotter soos ouma dit gemaak het. Geurige sop met tuisgebakte broodjies – ook gevries om weg te neem. Koffiebone, gerooster en vermeng deur ‘n ware koffie-connoisseur vir die fynproewer… te veel om alles op te noem.
Snuffel en ontdek is besoekers se voorland!
Tradisionele etes is die kontreimark se groot aantrekkingskrag en lok smulpape van heinde en verre.
Neem net kennis dat gebakte skaapkop slegs op voorafbestelling beskikbaar is. Vir die minder dapperes is daar talle ander kosstalletjies vir elke smaak. Niemand hoef op ‘n leë maag huis toe te gaan nie. Die goue reël vir besoekers is: trek gemaklike stapskoene aan en beplan vir genoeg tyd om die meer as 150 stalletjies rustig te verken – elkeen lewer groot verrassings op.
Daar is nie kitsbanke op die plaas nie – bring dus genoeg kontant saam. Nadere besonderhede oor die mark is beskikbaar by Annatjie by 083 541 9908.
Soos in die verlede gaan hier weer ‘n bergfietsren van 50/30 km aangebied word.
Inskrywings kan gedoen word by www.cycleevents.co.za.
Waar is die plaas? Neem die R42 vanaf Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoekkruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting. GPS Koördinate: GPS: S26°38’58.1 E28°06’50.0.
Dit is teerpad tot by die plaasingang. Toegang is gratis.



