Teater en restaurant span saam vir ‘n onvergeetlike Vrouedag
Alle dames, van tieners tot tagtigers, wat voel dat hulle ‘n lig-my-oppie nodig het, moenie Vrydag (9 Augustus) se Vrouedagvieringe in Sasolburg misloop nie

SASOLBURG. – Alle dames, van tieners tot tagtigers, wat voel dat hulle ‘n lig-my-oppie nodig het, moenie Vrydag (9 Augustus) se Vrouedagvieringe in Sasolburg misloop nie.
Die Etienne Rousseau-teater en Redwoods Restaurant span vanjaar saam om dié dag vanaf 11:00 tot 15:00 ‘n onvergeetlike program aan te bied wat uit verskeie bederfies gaan bestaan. Aktrise Lizz Meiring gaan sorg vir pitkos en lekker lag, Liz Reyneke gaan slim grimeerwenke gee en Mev. SA-semifinalis Belinda Bothma gaan meer vertel oor die eienskappe wat nodig is om van enige vaal meisie ‘n wenvrou te maak.
Manie Jackson en Jennifer Jones gaan vir lieflike musiek sorg. ‘n Uitstalling van kunswerke van die Loubard Gallery in Pretoria sal te sien wees, waaronder werke van Vader Claerhout, Adriaan Boshoff, Nico van Rensburg en Buchner. Werke van Bousie, Phillip Britz, Leonid Afrimov en ander gaan ook teen groot afslag beskikbaar wees.
Kunsvlytwerke sal ook uitgestal word. Die Vrouedagviering word in samewerking met die Alpha-tak van die SA Vroue Landbou-unie en die Vaaldriehoekse Kwiltersgilde aangebied. Kaartjies vir die dag is beskikbaar by Computicket en kos R150 elk.
Die manne is ook nie vergete nie! Terwyl die meisies besig is met vrouesake, kan die manne lekker kom uitspan by Redwoods waar daar ‘n opwindende dag vol grappe en pret op hulle wag.
Navrae kan gerig word aan Tertius Junior by (016) 4544426 of tertius@terbot.co.za.



