VDBP gee Bobbies streepsuiker
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – ‘n Sprokies-einde wink vir die eerste rugbyspan van die Vanderbijlpark Rugbyklub nadat hy Saterdag op sy tuisveld Oos-Rand Polisie met 44-28 in die halfeindronde van die Kestrel-liga geklop het. Die rateltaai manne van Vanderbijlpark kom op 17 Augustus teen Elsburg in die eindstryd te staan. Elsburg het Heidelberg in die …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – ‘n Sprokies-einde wink vir die eerste rugbyspan van die Vanderbijlpark Rugbyklub nadat hy Saterdag op sy tuisveld Oos-Rand Polisie met 44-28 in die halfeindronde van die Kestrel-liga geklop het.
Die rateltaai manne van Vanderbijlpark kom op 17 Augustus teen Elsburg in die eindstryd te staan. Elsburg het Heidelberg in die ander halfeinstryd met 44-15 geklop.
Vanderbijlpark het in sy vorige ontmoeting vir Elsburg met 17-10 geklop en die eindstryd beloof om weer ‘n naelbyt-affêre te wees. Vanderbijlpark het Saterdag die olifant een happie op ‘n slag opgeëet. In die eerste helfte was daar bitter min tussen die twee spanne te kies. Die tuisspan het met ‘n skrale voorsprong van 25-21 gaan water drink, maar in die tweede helfte het hy die versneller platgetrap. Vanderbijlpark se agttal het algaande die skroewe stywer vasgedraai en kosbare eerstefase-besit in die lynstane omgekeer.
Die tuisspan se skakelpaar, Xavier van Breda en Ndyebo Dintsi, het agterlangs gebaljaar en tussen hulle vier van die span se drieë gedruk. Nog ‘n speler wat spesiale vermelding vir sy inklimspel op die aanval en in die verdediging verdien, is die tuisspan se JP van Wyk wat op flank ‘n vyfster-vertoning gelewer het. Die tuisspan het in die tweede helfte as ‘n eenheid beter as die besoekers van die Rand saamgespeel en die sluise het na die draaislag oopgebars. Die eindstryd behoort in Brakpan op die Valke Rugbyunie se hoofkwartier plaas te vind.
PUNTEMAKERS: Vanderbijlpark 44 (25): Drieë: Ndyebo Dintsi (2), Xavier van Breda (2), Steven Brune en Devan Lombard. Doelskoppe: Steven Brune (4). Strafdoele: Brune (2). Oos-Rand Polisie: 28 (21): Drieë: Inga Njikelena, Chandre van der Mescht, Stephen Strydom, Josua Schutte. Strafdoele: Martin Greeff (2). Doelskop: Greeff.



















