CommunityLocal newsNewsUpdate

Liefdadigheidswinkel nou oop

VANDERBIJLPARK. – Een van Solidariteit Helpende Hand se gewilde liefdadigheidswinkels, bekend as Ons Winkel, het pas in die middedorp geopen. Adri van Wyk staan aan die stuur van sake by Ons Winkel, wat ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap gaan probeer maak. Die nuwe winkel wat op Maandag 29 Julie amptelik sy deure vir die …

VANDERBIJLPARK. – Een van Solidariteit Helpende Hand se gewilde liefdadigheidswinkels, bekend as Ons Winkel, het pas in die middedorp geopen.
Adri van Wyk staan aan die stuur van sake by Ons Winkel, wat ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap gaan probeer maak.
Die nuwe winkel wat op Maandag 29 Julie amptelik sy deure vir die publiek geopen het, is een van sowat 50 soortgelyke landwye skenkingswinkels van Helpende Hand. Die winkel in Vanderbijlpark is in Winkel 4 van die Ekspa-gebou in DF Malanstraat.
“Ons sien baie daarna uit om ’n verskil in die dorp se gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” sê Adri.
Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word, van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware of enigiets anders wat by die huis in die pad staan.
Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Dié studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie oor die nodige fondse beskik nie.
Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig en dien ook as werkskepping in die gemeenskap.
“Saam kan ons almal ’n groot verskil in die gemeenskap maak. Stap bloot net by die winkel in en koop of skenk iets. Dit is die ideale manier om van oorbodige huisware ontslae te raak en te weet dit gaan reg aangewend word om ’n verskil in die gemeenskap te maak,” nooi Adri.
Vir meer inligting of om ’n skenking te maak, kan Adri by 076 471 5691 gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button