Del Arté se beskermvrou is ‘n uitsonderlike sakevrou, kunstenaar én ma
Magda Thomas het haar liefde vir die kunste reeds van ‘n jong ouderdom af aan haar twee dogters, Cassandra en Daniella, begin oordra.
VANDERBIJLPARK. – Inwoners van die Vaaldriehoek ken Magda Thomas as ‘n raakvatter-sakevrou. Sy is nie net direkteur by Tiger Wheel & Tyre (Vaaldriehoek franchise), waar haar werk meestal HR en finansiële bestuur behels nie, maar sy is ook vir die derde agtereenvolgende jaar beskermvrou van Del Arté Eisteddfod. Dié jaarlikse kunsfees se onderskeie afdelings vind tans vir ‘n maand lank in Vereeniging plaas.
Magda kan self ‘n voertuigband met presisie ruil en sy skroom nie om ‘n besem op te tel en werkstasies by Tiger Wheel & Tyre uit te vee wanneer ‘n ekstra paar hande nodig is nie.
Hoewel sy ‘n roos in ‘n veeleisende manswêreld is, lê die kunste nog altyd na aan dié energieke sakevrou se hart.
Met ‘n skilder vir ‘n pa, vloei die kunstebloed sterk in haar familie se are. Harde werk ook. Maar sy werk nie vir geld of eer as hoofdoel nie.
“Ek werk vir die Here en sê elke dag dankie dat ek so geseënd is om alles te kan doen wat ek aanpak,” sê sy. “Ek kan nie stilsit nie. Bedags werk ek op kantoor en saans doen ek tapisserie, peuterwerk of ek skilder,” sê Magda.
Geduld
Vir haar eerste skilderwerk het sy jare gelede akriel gebruik. Dit het haar haastige persoonlikheid gepas omdat ‘n akrielwerk vinnig voltooi kan word. Haar kunsonderwyser het aanbeveel dat sy met olieverf as medium werk.
“Dit gee jou meer beheer om jou kunswerk te verander of aan te pas. Dit leer ‘n mens veral ook om stadiger te werk en geduldiger te raak want jy moet letterlik wag vir die verf om droog te word,” sê sy.
Geduld was nie altyd sinoniem met Magda se persoonlikheid nie. Sy is van nature ‘n vrou wat ‘n ding dadelik wil doen, rég wil doen en vinnig wil klaar maak. Dié eienskappe speel steeds ‘n groot rol in haar werkslewe en dra ongetwyfeld baie by tot die onderneming se sukses. Tog beskryf haar werknemers en kinders haar as ‘n regverdige en aanpasbare mens. ‘n Diep mens met baie insig en empatie vir ander. Moet net nie vir haar beloftes maak wat jy nie gaan nakom nie. Moet nooit vir haar jok nie. En moet dit nooit vir haar wegsteek as jy ‘n fout gemaak het nie.
“Dis menslik om foute te maak, maar erken dit, sorteer dit uit en beweeg aan,” is Magda se raad.
Haar liefde vir die kunste het sy reeds van ‘n jong ouderdom aan haar twee dogters, Cassandra en Daniella, begin oordra. Cassandra se talente het uiting gevind in klavier en sang en Daniella s’n in blokfluit en klavier. Cassandra was byvoorbeeld op skool hoofsolis in haar skool se revue en sy het op haar 18de verjaardag ook in ‘n Theuns Jordaan-voorvertoning by Emerald Resort & Casino opgetree. As volwassenes het hul ma hulle aangemoedig om ook te begin verf en skilderklasse te neem. Hier het hul talente ook geblom. Cassandra en Daniella stem saam dat skilder ‘n mens help om in stormagtige tye deur pynlike emosies te werk.
Sakevroue
Albei dogters is vandag sakevroue en kunstenaars uit eie reg. Hoewel ma en dogters almal sterk persoonlikhede en soms kontrasterende opinies het, is daar ‘n byna tasbare liefdesband. Cassandra en Daniella deel heelwat van hul ma se karakter- en besigheidseienskappe, maar daar is ook duidelike verskille. Een ooreenkoms is dat almal ‘n sterk verantwoordelikheidsin het. Elkeen weet presies wat sy in die lewe wil hê en streef op haar eie manier daarna om dit te bereik.
Cassandra
Cassandra (Johst-Saayman) wou reeds as klein dogtertjie haar gesin se kosblikke vir die dag pak. Kosmaak was van jongs af haar passie. Met ‘n graad in Geesteswetenskap en honneursgraad in Engels in die hand, het sy eers die Onderwys betree, en ‘n jaar lank in Saoedi-Arabië as dosent aan ‘n vroue-universiteit spandeer. Terug in Suid-Afrika het sy ‘n boetiek-, geskenk- en koffiewinkel in Vanderbijlpark geopen. Vandag fokus sy net op haar hoofonderneming met die ongewone naam, Moer Lekker Liqueur & Wine Belgian Chocolates. Dié handgemaakte heerlikhede (in die humoristiese vorm van ‘n meganiese moer) is vandag ‘n genotvolle aanwins op enige troue of spesiale viering regdeur die land. Slegs egte, ingevoerde Belgiese sjokolade en regte wyn en likeur word in die vervaardiging gebruik.
Cassandra is persoonlik betrokke by die vervaardiging, die noukeurige toedraai, verpakking en versending daarvan. Dié uitsonderlike smulhappies is beskikbaar in 20 verskillende wyn- of likeurgeure.
Daniella
Daniella (Roberts) het van jongs af daarvan gehou om vroue mooi te maak, hul naels te verf of familielede se skouers te masseer.
Na skool het sy gevorderde kursusse in skoonheidsbehandeling deurloop en ‘n jaar op ‘n skip in Amerika gewerk. Sedert 2012 is sy die eienaar van haar eie spa, Adara Beauty in Vanderbijlpark. Hier sien sy toe dat vroue (én mans) in ‘n rustige, kalm sentrum bederf word met skoonheidsbehandelings soos gelaatsbehandelings, manikure, pedikure, haarverwydering, massering en veel meer. Dit was egter nie genoeg vir haar nie en sy en ‘n vriendin, Ilse Buys, het ook ‘n inspirerende nuwe T-hemp reeks, “Elena live opulence”, begin.
Dis duidelik dat hierdie dames nie vir die lewe wag om dinge te laat gebeur nie – hulle doen dit self!
* Vind die vroue se sakeondernemings op Facebook vir meer inligting. Vaalweekblad is vanjaar weer drukmediaborg van die Del Arté Eisteddfod.
Kunswerke deur Magda, Daniella en Cassandra:






