Vaal sportbeker loop oor
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek het ‘n langnaweek propvol goue herinneringe en prestasies agter die rug wat vir lank onthou sal word. Skole en klubs in die Vaal gaan na dese Jantjie wees na die Hoër Tegniese Skool Carel de Wet, die Vereeniging Rugbyklub en die Hoërskool Transvalia se onderskeie welslae op die …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek het ‘n langnaweek propvol goue herinneringe en prestasies agter die rug wat vir lank onthou sal word.
Skole en klubs in die Vaal gaan na dese Jantjie wees na die Hoër Tegniese Skool Carel de Wet, die Vereeniging Rugbyklub en die Hoërskool Transvalia se onderskeie welslae op die rugby- en hokkieveld.
Die o.14-rugbyspan van die Hoër Tegniese Skool Carel De Wet se o.14’s se spogsege in die eindstryd van die Virsekerbeker met 12-10 oor Warmbad gaan lank onthou word. Die Hoërskool Transvalia se o.14-hokkiespan gaan ook die ander skole die geel baadjie laat aantrek, nadat hy Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria met 1-0 in die grootskole-eindstryd geklop het om as die Noordvaalkampioen gekroon te word.
Wat die Carels se prestasie so uitsonderlik maak, is dat die span sy seisoen onoorwonne afgesluit het en dit die eerste keer in 25 jaar is dat die skool die Virsekerbeker/Direkteurstrofee wen.
Die eerste rugbyspan van die Vereeniging Rugbyklub het ‘n reuse-slag geslaan toe hy Saterdagmiddag op Loftus Versveld die heiligdom van die Blou Bul vir sy eweknie Klerksdorp net-net met 19-16 in die eindstryd van die Volcano-trofee geklop het.
Dit was ‘n klipharde kragmeting maar wie heuning wil eet, moet steke verdra. Daarvan kan die brekers van Vereeniging getuig, maklik was dit beslis nie en Sondag het die seer lywe getuig van tipiese eindstryd-rugby… hard en senutergend. – Lees nog berigte oor Carel de Wet en Vereeniging Rugbyklub se welslae binne.


























