Local newsNationalNews

Bekende in voormalige regimentskringe oorlede

Adjudant-offisier John Klonarides (67) van die voormalige Regiment Overvaal sterf

 

Retha Fitchat

VEREENIGING. – ‘n Bekende in plaaslike weermagkringe, adjudant-offisier (AO1) John Klonarides, is Dinsdag 30 Julie in die ouderdom van 67 jaar oorlede.

AO1 Klonarides was die regiment-sersantmajoor (RSM) van Regiment Overvaal toe die eenheid in 1997 finaal sy deure toegemaak het.

John is op 4 Mei 1952 in Tanganjika in Oos-Afrika gebore. In 1961 het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis, waar hulle hul in Vereeniging gevestig het. John het deur die jare by verskeie ondernemings gewerk, onder andere by Lucas Radcliff, L. Suzmans, Spar Vanderbijlpark en ook ‘n geruime tyd by Hydro Diesel Injection Services in Vereeniging.

John het as jong man sy nasionale diensplig op Youngsfield (Lugafweer) in Kaapstad gedoen. Hy is in ‘n kwartiermeesterrigting opgelei, veral in die tegniese toerustingsaspek van lugafweer.

Na sy diensplig het hy in 1973 sy burgermagverpligtinge by Regiment Overvaal, wat op Vereeniging Militêre Basis gestasioneer was, nagekom.

“Hier is John se toewyding onmiddellik raakgesien waar hy die belangrike pos van Regiment-Sersant: Kwartiermeester (Tegnies) sy eie gemaak het. Sy veelsydigheid het gemaak dat hy meer as een hoed in die kwartiermeester-omgewing gedra het,” sê lt.kol. Saadjie Zelie, voormalige bevelvoerder van Regiment Overvaal.

“John is by meer as een geleentheid ingespan om korrektiewe opleiding toe te pas vir die manne wat dissipline-probleme gehad het,” onthou lt.kol. Zelie.

John het deur die jare verskeie burgermagkampe verrig asook twee grensdienste in die destydse Suidwes-Afrika en is mettertyd tot die rang van AO2 (Adjudant Offisier 2de Klas) bevorder. In 1994 bereik hy sy droom toe hy as die vyfde RSM van Regiment Overvaal aangestel en bevorder is tot AO1. Onder lt. kol. Zelie se bevel het hy dié pos tot met die sluiting van die eenheid in 1997 beklee.

Die medaljes wat John deur die jare verwerf het, sluit in: Pro Patria Medalje, Algemene Diens Medalje, Unitas Medalje, John Chard Dekorasie (20 jaar getroue diens), John Chard Medalje (10 jaar getroue diens) en die Embleem vir Vrywillige Diens (EVD).

“Hoewel John se gesondheid die afgelope tyd nie na wense was nie, was dit tog ‘n groot skok om van sy afsterwe te verneem,” sê lt.kol. Zelie.

John se roudiens is Dinsdag, 6 Augustus, in die Griekse Ortodokse Kerk, Duncanville, deur Vader Sergio gelei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button