Egpaar geskok na vermoedelike kapingspoging op R59-snelweg
"Ek ry elke dag van my lewe die R59 en sukkel om dit wat ons gesien het, te verwerk. Ek sal terugvoering vreeslik waardeer as Vaalweekblad agter die kap van die byl kan kom."

Alicia Heyns Strydom van die Vaaldriehoek wil alle motoriste waarsku nadat hulle op Saterdagaand 24 Augustus omstreeks 20:30 ‘n skokkende ervaring op die R59-snelweg gehad het.
Alicia vertel:
My man en ek was die aand in twee verskillende voertuie van Vaalpark na Meyerton op die R59-snelweg op pad. By die Ascot-on-Vaal afrit in Vanderbijlpark het daar ‘n silwerkleurige kar met ‘n oop deur gestaan, maar daar was niemand in sig nie.
So 200 tot 300m verder het ons ‘n swartman in die middel van die pad op sy knieë sien staan. Sy hande was vasgebind.
Hy was op die sperstreep tussen die twee bane. ‘n Mens skrik so groot want jy sien hom enkele meters voor jou kar eers. Ek kon die vrees in sy gesig sien. Dit was nie ‘n skelm nie! Ek is amper seker!
My man was agter my met sy motor en hy het my net nadat ons daar verby is, gebel. Ons was albei so getraumatiseer en het probeer dink aan wat ons kon doen. Ons albei het besluit dat dit ‘n lokval moes wees en dat dit nie ‘n hijacker was wat sy lewe so sou waag nie. Ons het vermoed dat die man as ‘hijacking bait’ gebruik is en het dus nie stilgehou nie, maar het toe besluit dat ek 10111 moes bel.
Die beampte met wie ek gesels het, het geklink asof hy die erns van die saak begryp en wou soveel detail as moontlik uit my kry sodat hulle presies kon weet waar ons die motor en die man gesien het. Ek het die polisie 3 minute nadat ons daar verby is, gekontak.
Ek was intussen in kontak met Meyerton CPF, wat toe genoem het dat hulle die polisie sal kontak om te hoor of iemand uitgegaan het en ook wat hulle gevind het. Ons wil net weet of hierdie man en ander padgebruikers veilig was…
Ek het nog geen terugvoering ontvang nie. Ek ry elke dag van my lewe die R59 en sukkel om dit wat ons gesien het, te verwerk. Ek sal terugvoering vreeslik waardeer as Vaalweekblad agter die kap van die byl kan kom.
Ek sal beslis nooit weer in die nag op die R59 ry nie!
* Vaalweekblad sal graag wil vasstel of enige ander motoriste ‘n soortgelyke ervaring gehad het. Skakel Vaalweekblad se kantore by (016) 950 7000 of lewer asseblief kommentaar op hierdie plasing op Vaalweekblad Facebook.



