CommunityEntertainmentLifestyleLocal newsNewsUpdate

Nuwe hoop vir jong VS-lyer

“Veelvuldige sklerose (multiple sclerosis) is ’n siekte waaroor baie min mense kennis het, myself ingesluit, voor my diagnose.” Dit is die woorde van Mariska van Zyl, ‘n pragtige jong vrou wat met dié siekte worstel. Net soos die meeste lyers tussen die ouderdom van 20 en 40 daarmee gediagnoseer word, was dit ook die geval …

“Veelvuldige sklerose (multiple sclerosis) is ’n siekte waaroor baie min mense kennis het, myself ingesluit, voor my diagnose.”
Dit is die woorde van Mariska van Zyl, ‘n pragtige jong vrou wat met dié siekte worstel.
Net soos die meeste lyers tussen die ouderdom van 20 en 40 daarmee gediagnoseer word, was dit ook die geval met Mariska.
“Presies vyf dae na my 20ste verjaardag het ek gevoel in my regterhand verloor en ek kon ook nie meer uit my regteroog sien nie.”
Dit was die eerste “streep” (soos wat sy die VS-aanvalle begin noem het).
In kort kan VS verduidelik word as jou immuunsisteem wat jou brein se vetlaag aanval. Dit veroorsaak dat die seine van jou brein nie die relevante ledemaat bereik nie en die gebruik van die ledemaat is verlore (soms tydelik en soms permanent).
Mariska was gelukkig dat haar hand en oog ten volle herstel het. Haar VS wat almal gedink het is progressief, het omgesit in remissie.
Dit het daartoe gelei dat sy met die gebruik van medikasie saam met die siekte kan leef. Vir die afgelope vier jaar is dit wat sy doen.
“Ek het intussen geleer dat VS nie net bestaan uit aanvalle nie, maar ook ander simptome het,” vertel Mariska.
In haar geval is dit konstante pyn in haar lyf, hoofpyn en ‘n onbeskryflike moegheid. Dit veroorsaak dat alledaagse take ‘n uitdaging geword het, maar dié jong dame het nie toegelaat dat dit haar stop nie.
Sy het aanhou werk en volg ‘n normale lewe soos voorheen. Sy werk by AV Theron & Swanepoel Ingelyf en streef daarna om ‘n prokureur te word.
“Dit voel soos ‘n vuur wat in my brand om alles te doen voor die siekte wen en ek die onvermydelike eindpunt (om in ‘n rolstoel te beland) bereik” sê Mariska.
Sy het ook baie navorsing oor die siekte gedoen en gehoor van stamsel-behandelings wat deur ‘n dr. Bell in Parys in die Vrystaat gedoen word.
“Ek het verskeie van sy pasiënte gesien en die merkbare verandering wat die behandeling meebring, is sigbaar”.
Mariska wil nou die behandeling ondergaan, maar dit word nie deur haar mediese fonds gedek nie, aangesien dit nog nie ’n goedgekeurde behandeling in Suid-Afrika is nie.
“Ek het begin spaar en elke keer uitgestel omdat ek nie die bedrag bymekaar kon kry nie. My werk het my stryd gesien en betaal vir die eerste behandeling.”
Na die eerste behandeling in Augustus kon Mariska nie die resultate glo nie. “Eenvoudige dinge soos by trappe op te hardloop en deelneem aan fisiese aktiwiteite het ’n moontlikheid geword.”
Sy sal egter nog behandeling moet ondergaan en om die rede word daar vir haar ‘n fondsinsameling gehou. Plaaslike inwoners kan Mariska help deur dit te ondersteun.
“Ek wil hê my storie moet ’n getuienis van hoop wees vir ander wat met die siekte leef. Hou vas aan God en sy belofte van genesing, ongeag wat die medici vir jou sê,” sluit Mariska af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button