Klub-eindstryde eerste keer in 15 jaar in Vaal
Ettienne van Rensburg VEREENIGING. – ’n Laat verjaardagsgeskenk in die vorm van ‘n kampioenskapbeker sal soeter as die soetste nektar op die tong wees. Dis tong-in-die-kies waarna Stefan Jacobs, hoofafrigter van die Vereeniging Rugbyklub, smag wanneer die klub se eerste rugbyspan Saterdagmiddag op die Vereeniging Gimnasium se velde teen Springs die Valke-kampioen in die eindstryd …

Ettienne van Rensburg
VEREENIGING. – ’n Laat verjaardagsgeskenk in die vorm van ‘n kampioenskapbeker sal soeter as die soetste nektar op die tong wees.
Dis tong-in-die-kies waarna Stefan Jacobs, hoofafrigter van die Vereeniging Rugbyklub, smag wanneer die klub se eerste rugbyspan Saterdagmiddag op die Vereeniging Gimnasium se velde teen Springs die Valke-kampioen in die eindstryd van die Peregrine-liga te staan kom.
Dit is die eerste keer in meer as 15 jaar dat die Valke Peregrine-eindstryd in die Vaaldriehoek plaasvind.
Jacobs het Dinsdag sy 45ste verjaardag gevier en hoop om sy week op ‘n wennoot af te sluit.
“Ons is beslis die underdogs, maar ek gun my span beslis ‘n goeie kans. Springs gaan nie net hier opdaag en wen nie,” sê Jacobs.
Vereeniging het op sy tuisveld Saterdag vir East Rand United met 27-20 geklop om sy plek in die eindstryd te bespreek.
Springs het op Olympiapark vir meer as ’n uur met net veertien man op die veld gespook om vir NWU Vaal met 51-38 in die ander halfeindstryd te klop.
Volgens Jacobs is hy verlig dat sy span redelik beseringvry die eindstryd bereik het.
“Daar is ‘n paar klein beserings, maar niks ernstig nie. Ek dink die span bereik sy beste spelpeil op die regte tyd. Die voorspelerstryd gaan deurslaggewend wees.”
“Die span wat die hongerste is en die beste dissipline op dag het, gaan wen. Ek sien uit na Saterdag,” sê Jacobs.
*In die eindstryd vir o.21-spanne wink daar ‘n beker op die horison vir die NWU Vaal wat teen Brakpan te staan kom.
Volgens Dewald Pieters, die hoofafrigter van NWU Vaal Rugbyklub, is die gees in die span en die eenheidsgevoel iets uitsonderlik.
“Die span is ‘n hegte eenheid, eintlik meer soos ‘n familie. Dit gaan ‘n tipiese eindstryd wees, maar ek glo ons is gereed. Ons strukture is in plek,” het Pieters aan die vooraand van die eindstryd gesê.
Pieters se senuwees het die afgelope paar weke erg geknaag met ‘n rits van sy o.21-spelers wat Curriebeker diens moes verrig het.
“Dis moeilik om so voor te berei, maar die groep het saamgetrek. Die ouens se werksetiek is uitsonderlik. As hulle voel iets was nie reg nie het ons ekstra oefening ingewerk.”
Benewens die senior klubrugby bied Vereeniging Rugbyklub ook sy junior klubrugbydag van 08:00 af aan.
Die o.21- en eerste span eindstryd vind onderskeidelik om 14:00 en 16:00 plaas.




