Meteoriet …of nie?
Sommige Parysenaars en Potchefstromers glo hulle het Donderdagaand 19 September, ‘n meteoriet gehoor wat die aarde iewers naby Potchefstroom getref het. Party meen hulle het dit selfs gesien. Omstreeks 17:30 Donderdagaand het verskeie Potchefstromers en ook Parysenaars ‘n harde slag gehoor. Inwoners van Klerksdorp tot so ver as Fochville het oor dieselfde harde geluid op …
Sommige Parysenaars en Potchefstromers glo hulle het Donderdagaand 19 September, ‘n meteoriet gehoor wat die aarde iewers naby Potchefstroom getref het. Party meen hulle het dit selfs gesien.
Omstreeks 17:30 Donderdagaand het verskeie Potchefstromers en ook Parysenaars ‘n harde slag gehoor. Inwoners van Klerksdorp tot so ver as Fochville het oor dieselfde harde geluid op Facebook gevra.
‘n Inwoner van Fochville, Belinda Janse van Rensburg, het op die Weather Today – South Africa Facebook-groep gesê, dat sy twee aparte vuurballe sien val het, en het dit met ‘n verskietende ster vergelyk.
Willie Immelman, wat op ‘n plaas 35km van Potchefstroom in Fochville se rigting woon, sê hy het dit ook gesien.
“Ek het die middag halfses se kant buite gestaan toe ek die twee liggies in die rigting van Viljoenskroon sien val,” sê hy. Hy sê dit het soos seinligte gelyk wat aarde toe kom.
Dit het egter weer verdwyn voor dit die grond kon raak.
“Dit was seker net so drie sekondes toe is dit weer weg. Dit is die eerste keer dat ek so-iets deur die dag gesien het,” sê hy.
Karine Wilkens wat op ‘n plaas 100km buite Potchefstroom in die rigting van Hartebeesfontein woon, sê sy het die klank gehoor terwyl sy op die plaas gestap het. “Dit het geklink soos ‘n vliegtuig, en net daarna toe sien ek ‘n blink, helder streep deur die lug kom, omtrent 100 meter bo die grond! Soos ‘n ster wat val en uitbrand!”
Daar kon egter nog nie vasgestel word of dit wel ‘n meteoriet was, en waar dit die aarde getref het nie.



