Deon Groot se nuwe CD laat Namakwaland lééf
Deon Groot se nuwe album en tweede enkelsnit vanaf die album, Ek sweer, is pas bekendgestel en alle aanduidings is dat sy aanhangers in vervoering is daaroor!

Sy eerste enkelsnit, Wyn, wat gedurende Maart vanjaar vrygestel is, het die Nr. 1 posissie op die trefferparades van radiostasies landswyd ingeneem en Ek sweer gaan beslis nie teleurstel nie. Volgens Deon is die inhoud op sy nuutste ateljeealbum, wat ses maande geneem het om op te neem, verweef met liefdes- en partytjieliedjies.
“Elke liedjie op die album moes aan die kenmerkende klank van die Namakwaland voldoen en by ’n groter gehoor aanklank vind, sonder om prys te gee wie ons as kunstenaars is,” sê hy.
Vir die sanger is die hoofdoel om waardering vir sy musiek te skep met goeie melodieë en eerlike lirieke – hy wil graag hê dat mense dit moet geniet vir wat dit is.
Hy beskryf die album as eenvoudig, maar treffend: “Ons moet maak soos die Namakwalanders – hulle leer ons om te dans, om saam te kuier, en om musiek en goeie geselskap te geniet,” verklap hy.
“Mense moet daarna luister en hulleself herken in die musiek. Elke liedjie vertel ’n storie wat ek graag wil hê almal moet hoor,” sê Deon, wat sy debuutalbum, Gee my Oor, in 2017 vrygestel het. Deon het in ’n musikale huis grootgeword. “My ma was ’n musikant en het gewoonlik in die aande vir ons klavier gespeel toe ons klein was,” vertel hy. Hy
het al jare terug daaraan begin werk om sy eie musiek te skep. “Ek skryf al liedjies van 2004 af. Dit het amper vyftien jaar se harde werk, geloof, droom en bou geneem om te kom waar ek nou is.”
Deon glo dat elke situasie in die lewe êrens heen lei – hartseer, liefde, geluk – en dat almal emosies op ’n unieke manier ervaar. Dit is wat hom inspireer en wat sy musiek vorm – dit wissel tussen baie ernstig tot skreeusnaaks. Hy het ook ’n groot hart vir diere en sou graag ’n wildbewaarder wou wees as hy nie ’n musikant was nie. “Min mense weet dit, maar ek het ’n groen boomluislang met die naam Ceimera. Ek is gek oor diere.”
Wanneer jy hom vra wat die musiekbedryf hom oor die jare geleer het, antwoord hy: “Geduld en uithouvermoë. Jy sal dit nooit maak as jy nie in jouself glo nie. Dis belangrik om net jouself te wees en te leef vir dit wat jy graag wil bereik.”
Liedjies op die nuwe album wat veral aandag trek, is Wyn, Hemelpoorte, Ek Sweer en Slaap Nou Sag. * Neem deel aan Vaalweekblad se weeklikse blokkiesraaisels en staan ‘n kans om die CD te wen.



