Neil Nachtrein neem jou na plekke waar jy eens was
Neil Nachtrein is ‘n sanger en liedjieskrywer uit die hartjie van die Vrystaat.

Elkeen het sy eie storie waar hy begin het, maar Neil s’n was regtig aan die onderste spar van die leer na sukses. Hy het in 2003 begin deur ‘open mic’ aande in Londen te doen. In 2006 begin hy sy eie musiek skryf en keer terug na sy vaderland waar hy eers by elke moontlike geleentheid in Bloemfontein opgetree het. In 2012 reik hy sy eerste album, Gisters & Blisters uit en sedertdien tree saam op as lid van Blomtrein (met sy
sangmaat, Jan Blohm). Na drie jaar van Blomtrein ry, besluit Neil om op ‘n ander stasie af te klim en sy eie trein se stoom aan te vuur. Die grootste deel van sy vertonings
is oorspronklike, alternatiewe Afrikaanse musiek, maar hy kan ook ‘rock & blues covers’ behoorlik laat rock. Sy verhoogpersoonlikheid is gesellig, lig en komies. Maar tussen
woorde en stiltes maak hy noue kontak met elkeen in die gehoor. Dis so asof jy voel jy ken hom persoonlik wanneer jy daar uitstap. Sy nuwe album, Op plekke waar
ons eens was, is propvol oorspronklike musiek, en die titels prikkel ‘n mens se aandag nog voordat jy begin luister. Titels soos Pelgrim, Stilste uur (wat besig is om ‘n groot treffer te word), Op plekke waar ons eens was, 1998, Rivier en vele meer. Dis almal temas, woorde en ervaring uit Neil se pen wat jou tot diep in hierdie man se siel sal
laat sien. Hy trek jou in, of jy wil of nie.Luister na Neil se musiek en jou hart gaan wil saam reis na nuwe bestemmings. Nuwe stasies. Selfs al is dit na binne. Neil Nachtrein is dié nuwe naam op almal se lippe wat van so bietjie meer alternatiewe musiek hou. Hou vas jou hart; Neil gaan jou saamvat op ‘n diep reis…



