Emfuleni se waterdruk daal dalk weer met 20%
Vryheidsfront Plus waarsku Emfuleni-inwoners om gereed te maak vir moontlike watertekort
Mnr. Christo Smith, VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, raai inwoners van die gebied aan om voorsorgmaatreëls te tref omdat Randwater opnuut dreig om die waterdruk van hierdie week af met 20% te verminder. Smith waarsku dat so ‘n stap sal beteken dat hoogliggende gebiede in Emfuleni weer soos vroeër vanjaar, vir ‘n geruime tyd sonder water kan wees.
“Emfuleni-munisipaliteit skuld Randwater nou R423 404 724.88. Die munisipaliteit het herhaaldelik belowe om sy skuld te delg, maar kom nie sy afbetalingsooreenkoms na nie. Randwater dreig om die krane stywer toe te draai as Emfuleni nie met ‘n oplossing na vore kom nie,” sê Smith.
“Die inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit word nou verder gestraf deur die onvermoë van die stadsraad om die dorp suksesvol te bestuur,” sê hy.
Smith sê die VF Plus hou die Emfuleni-munisipaliteit verantwoordelik vir hierdie nuwe krisis wat die gebied in die gesig staar.



