NewsNews

Betaal, betaal, maar geen dienslewering

VEREENIGING. – Inwoners van Drie Riviere is raadop met die dienste wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit veronderstel is om te lewer, maar waarvan daar niks kom nie. Slaggate, onvoltooide paaie en waterlekkasies in dié woongebied is aan die orde van die dag. Inwoners sê hulle weet nie meer watter kant toe nie, want hulle betaal …

VEREENIGING. – Inwoners van Drie Riviere is raadop met die dienste wat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit veronderstel is om te lewer, maar waarvan daar niks kom nie.
Slaggate, onvoltooide paaie en waterlekkasies in dié woongebied is aan die orde van die dag. Inwoners sê hulle weet nie meer watter kant toe nie, want hulle betaal immers elke maand sodat dienste gelewer kan word, maar helaas gaan die woongebied net meer en meer agteruit. Volgens DA-raadslid Dalene Venter van wyk 1, het sy al telkemale dieselfde probleme aan die munisipaliteit gerapporteer, maar daar word selde daadwerklik daaraan aandag gegee.
“Ek het al saam met van die munisipaliteit se amptenare in Drie Riviere rondgery, probleme uitgewys en daar is aantekeninge daarvan gemaak, maar tot op hede het die probleme nog geen aandag geniet nie,” sê sy.
In Kowiestraat ry inwoners nou al op die sypaadjie. Daar is etlike maande gelede aan die pad gewerk, maar dit is nooit voltooi nie. Klein gruisklippe lê oor die pad gestrooi en dit maak dit byna onmoontlik vir motoriste om daar te ry sonder om hul voertuig te beskadig. Die probleem is al deur Dalene en vele inwoners aangegee. Waterlekkasies is tans ook ’n groot probleem. By die verkeersirkel in Suikerbosrylaan stroom die water uit een van die stormwaterpype by die stormwaterkanaal. Waar die oorsprong van die lekkasie is, is egter nog ‘n ope vraag. “Die water lek al vir meer as ses maande. Inwoners word gevra om water te bespaar, maar die munisipaliteit voel ‘n veer om waterlekkasies reg te maak.” Nog ’n lekkasie wat dringend herstel moet word, is in Keistraat. Die water spuit reeds vir maande by die kraantjie uit.
“Probleme word op ’n daaglikse basis by die munisipaliteit aangegee, maar van herstelwerk is daar nie sprake nie,” sê Dalene.

Water stroom by die stormwaterpyp by die stormwaterkanaal by die verkeersirkel in Suikerbosrylaan uit.
Water stroom by die stormwaterpyp by die stormwaterkanaal by die verkeersirkel in Suikerbosrylaan uit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button