Plakkers betrek vervalle Voëlpark
SASOLBURG. – ‘n Groep plakkers het besluit dat die beboste, vervalle Voëlpark die ideale plek is vir hulle om ‘huis te bou’. Die Voëlpark, wat eens ‘n beskermde landmerk in die dorp was en waarheen biologieklasse en voëlkykers op uitstappies kon gaan en inheemse diere besigtig, staan reeds vir jare in sak en as en …
SASOLBURG. – ‘n Groep plakkers het besluit dat die beboste, vervalle Voëlpark die ideale plek is vir hulle om ‘huis te bou’.
Die Voëlpark, wat eens ‘n beskermde landmerk in die dorp was en waarheen biologieklasse en voëlkykers op uitstappies kon gaan en inheemse diere besigtig, staan reeds vir jare in sak en as en vergaan.
Van die omheining wat eens hierdie gebied beskerm het teen boosdoeners en honde, is daar geen teken nie. Die mooi sementpaadjies waarop mense deur die park kon wandel, moet nou onder bosse, vullis, grond en gekantelde bome gesoek word, en van die lamppale wat die plek saans verlig het, is daar ook niks meer oor nie. Die spruit wat deur die park geloop het van die ‘Checkers dammetjie’ af, is nou net een groot erosiesloot wat die plakkers as hulle toilet gebruik. Waar hulle water vandaan kry om te drink en mee kos te maak, is nie duidelik nie. Inwoners van die gebied is nou al vir ‘n geruime tyd bewus van hierdie nuwe ‘bure’ van hulle.
Een van die inwoners met wie Vaalweekblad gesels het tydens ons besoek, het gesê dat hy vas oortuig is dat dit hierdie plakkers is wat saans besig is met skelmstreke in die gebied. Hulle het al die polisie van hierdie mense vertel, maar is glo deur die polisie aangesê om die mense in vrede te laat, want hulle doen niks verkeerd nie. Tydens Vaalweekblad se besoek was daar ‘n paar mans by die kamp doenig met ‘n vuurtjie, terwyl een van die Checkers trollies vol plastiese bottels wat hulle bymekaarmaak vir geld, eenkant gestaan het. Die mans bly nou al ‘n geruime tyd daar en dit wil voorkom asof niks aan die situasie gedoen gaan word nie, al hou dit dalk ‘n gevaar in vir wettige inwoners in die gebied.




