Amy’Leigh-saak: Een se aansoek om borgtog toegestaan. “Meesterbrein” en ander moet bly sit
VEREENIGING. – Slegs een van die vier beskuldigdes in die opspraakwekkende Amy’Leigh de Jager-ontvoeringsaak sal op borgtog vrygelaat word. Landdros Hussein Khota het Vrydag in die Streekhof in Vanderbijlpark gelas dat die tweede verdagte, Laetitia Nel (40), op borgtog van R25 000 vrygelaat word op die voorwaardes dat sy nie enige van die staatsgetuies gedurende die …
VEREENIGING. – Slegs een van die vier beskuldigdes in die opspraakwekkende Amy’Leigh de Jager-ontvoeringsaak sal op borgtog vrygelaat word.
Landdros Hussein Khota het Vrydag in die Streekhof in Vanderbijlpark gelas dat die tweede verdagte, Laetitia Nel (40), op borgtog van R25 000 vrygelaat word op die voorwaardes dat sy nie enige van die staatsgetuies gedurende die verloop van die saak kontak nie en elke Woensdag tussen 09:00 en 21:00 by die Vanderbijlpark-polisiestasie aanmeld.
’n Emosionele Nel het in trane uitgebars toe sy dit hoor en na bo gekyk.
Khota het benadruk dat sy haar volle samewerking aan die ondersoekbeampte gegee het en dat dit betreurenswaardig is dat sy by die ontvoering van die sesjarige Amy’Leigh betrokke geraak het.
Tharina Human (27), die voormalige gr. RR-onderwyseres by Laerkool Kollegepark wat deur die staat as die “meesterbrein” in die ontvoering van Amy’Leigh beskryf word, sal in aanhouding bly.
Khota het in sy uitspraak in die borgverhoor gesê dat die staat geslaag het om op ‘n oorwig van waarskynlikheid te bewys dat die belang van geregtigheid swaarder weeg as die regte van die ander beskuldigdes.
Hy het bygevoeg dat die belange van die kind (Amy’Leigh) van uiterste belang is in die saak.
Hussein het gesê dat Human ‘n vlugrisiko mag wees gebasseer op bewyse wat voor die hof gelewer is. Sy het aan die ondersoekbeampte gesê dat sy slegs die klere aan haar lyf het en besit geen eiendom nie. Sy het wel ‘n Nissan Micro motor waaraan sy afbetaal het. Human se dogter word ook na omgesien deur haar ouers sedert sy in hegtenis geneem is.
Hussein meen dat daar ook ‘n redelike kans bestaan dat Human met getuies sal inmeng indien sy vrygelaat sou word.
Human se pa, wat vroeër die oggend baie geglimlag het, het Vrydag sy kop laat hang toe hy hoor sy dogter sal nie op borgtog vrygelaat word nie.
Hussein meen dat die staat ook bewys het dat die derde verdagte, Pieter van Zyl (50), ‘n vlugrisiko mag wees aangesien hy reeds sy eiendom verkoop het.
Hussein het gesê dat dit uit getuienis blyk dat Van Zyl sy magsposisie oor die vierdie beskuldigde, Bofokeng Molemohi, misbruik het en druk op hom uitgeoefen om by die ontvoering betrokke te raak.
Molemohi, ’n onwettige immigrant van Lesotho, het sy borgaansoek laat vaar.
Die saak is tot 13 November uitgestel en gaan moontlik na die Suid-Gautengse Hooggeregshof oorgeplaas word.









