Aanhouer Ané wen toe dié keer
VEREENIGING. – Toe Ané Oosthuysen (22) twee jaar gelede aan die Mej. Vaal-kompetisie deelgeneem het, kon sy nie met die kroon wegstap nie, maar slegs daarin slaag om onder die top agt finaliste te eindig. Sy het haar egter nie laat onderkry nie en weer ’n keer ingeskryf. Die keer is sy as Mej. Vaal 2019 gekroon! “Ek het gevoel dit is my jaar …
VEREENIGING. – Toe Ané Oosthuysen (22) twee jaar gelede aan die Mej. Vaal-kompetisie deelgeneem het, kon sy nie met die kroon wegstap nie, maar slegs daarin slaag om onder die top agt finaliste te eindig.
Sy het haar egter nie laat onderkry nie en weer ’n keer ingeskryf. Die keer is sy as Mej. Vaal 2019 gekroon! “Ek het gevoel dit is my jaar dié.
’n Mens moet nooit opgee op jou drome nie. Ek voel as jy vir jouself ’n doelwit stel en alles insit, kan jy dit bereik,” sê Ané. Sy droom ook daarvan om eendag aan die Mej. Suid-Afrika skoonheidskompetisie deel te neem. Die 1.81m lange honneursstudent in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit
se Vaaldriehoekkampus, is ’n Vaaldriehoeker in murg en been. Ané is die dogter van Dennis Oosthuysen (50), wat in die demolisiebedryf werk, en Annelise Oosthuysen (45), ’n tuisteskepper.
Sy het ’n jonger broer, Westiaan (19) en het in Arconpark grootgeword. Sy het aan Laerskool Unitaspark skoolgegaan en later aan Hoërskool Overvaal gematrikuleer voordat sy besluit het om haar sielkundegraad aan te pak. Vanjaar is sy besig met haar honneurs. Sy besef dat dit ’n besige jaar gaan
wees, maar sy hou van uitdagings. “Ek wou nog altyd mense gehelp het en ek dink in sielkunde kry mens ’n geleentheid om ander te help. “Ek was nog nie een dag spyt oor die keuse wat ek gemaak het nie.” Ané droom daarvan om haar meestersgraad in sielkunde te verwerf, maar het ook ’n Plan B en C as dinge nie uitwerk soos sy dit graag wil hê nie.
Sy dink daaraan om haar meestersgraad in maatskaplike werk te doen of haar honneursgraad in sosiologie (een van haar hoofvakke voorgraads).
Vir Ané is die Mej. Vaaldriehoekskoonheidskompetisie nie soseer ’n skoonheidskompetisie nie, maar eerder ’n platform om ander te help. “Ek dink mense vergeet soms van liefdadigheidsorganisasies in die Vaaldriehoek wat regtig hulp nodig het. “Ek wil hierdie jaar terugploeg in die gemeenskap en hierdie organisasies help,” sê Ané.
Sy het veral ’n sagte plekkie vir diere, kinders en oumense. In haar vrye tyd hou Ané van modelwerk en netbal – haar lengte gee haar natuurlik ook ’n voorsprong op die netbalbaan en sy draf gereeld op as hulpdoel of doel. Haar lewensmotto is: “No act of kindness, no matter how small is wasted.”
Sy voel dit is veral van toepassing noudat sy as Mej. Vaal gekroon is.




