M’am Kocks (90) het talle Engels ‘deliciously’ laat praat
VEREENIGING. – Denise Kocks (90), beter bekend onder oud-leerlinge as ‘M’am Kocks’, het as onderwyseres wat Engels by die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging gegee het, baie Vaaldriehoekers geleer hoe om Engels “properlies” te praat. Daar is net Engels in haar klas gepraat en niks anders nie. Die bekende predikantsvrou en oud-onderwyseres, wat reeds in 1988 afgetree het, het op Donderdag 3 Oktober …
VEREENIGING. – Denise Kocks (90), beter bekend onder oud-leerlinge as ‘M’am Kocks’, het as onderwyseres wat Engels by die Hoër Tegniese en Handelskool Vereeniging gegee het, baie Vaaldriehoekers geleer hoe om Engels “properlies” te praat.
Daar is net Engels in haar klas gepraat en niks anders nie. Die bekende predikantsvrou en oud-onderwyseres, wat reeds in 1988 afgetree het, het op Donderdag 3 Oktober 90 jaar oud geword. Sy het die afgelope naweek dié mylpaal op die boonste verdieping van Anna’s Kitchen in Drie Riviere gevier.
Altesaam 28 gaste, wat vier geslagte van haar familie ingesluit het, was teenwoordig. Kocks was natuurlik die oudste by die verjaardagpartytjie, met haar agterkleinseun, Hunter de Waal (1), die jongste gas. Kocks, wat in 1929 in Pietermaritzburg in Natal gebore is, het aan Voortrekkerskool in Pietermaritzburg gematrikuleer waar die bekende Afrikaanse digter Diederik Johannes Opperman (D.J. Opperman) vir haar Afrikaans as vak gegee het. Kocks het later haar B.A.-graad in tale aan die Universiteit Stellenbosch behaal en later ’n meestersgraad in Afrikaans. Dit is ook by dié Universiteit waar sy haar man, Jacobus Frans Kocks (Kobus), ontmoet het. (Hy het later by die NG Kerk Vereniging-Suid as leraar aangesluit).
Kocks het in Livingstone in Zambië begin skoolhou, waar sy Afrikaans gegee het, waarna sy by King David School in Victorypark in Johannesburg vir Ortodokse Jode klas in Afrikaans gegee het. Later is sy na die Hoër Handel en Tegniese Skool Vereeniging waar sy Engels gegee het. Sy het later ook ’n onderwysdiploma behaal.
Dit is by dié skool waar sy vanaf 1968 tot 1988 – vir twintig jaar lank – Engels vir matrieks gegee het en diep in Vaaldriehoekers se harte ingekruip het.
Haar dogter, Elda de Waal onthou: “Daar is net Engels in haar klas gepraat en al die leerlinge het haar as M’am Kocks aangespreek.
“Leerlinge het haar oor die jare heen op die hande gedra. Oud-leerlinge kom haal en dra haar gereeld na skoolreünies toe,” vertel sy skertsend. De Waal, ’n navorsingsprofessor in onderwys, menseregte en diversiteit aan Noordwes-Universiteit, is een van Kocks se drie kinders. Haar ander
kinders is Charl Kocks (65), ’n geoktrooieerde rekenmeester en Herman Kocks (58), ’n prokureur. Een van die hoogste prestasies wat Kocks tydens haar loopbaan behaal het, was toe sy 1984 van die Goudstadse Onderwyskollege ’n goue medalje ontvang het vir die beste onderwyseres in Engels: Tweede Taal in die ganse Transvaal. Kocks se man is in 2011 oorlede. Sy is tans ’n inwoner van ’n aftreeoord in Drie Riviere.

Hunter de Waal (1), op haar skoot tydens haar 90ste verjaardagpartytjie by Anna’s Kitchen in Drie Riviere.



