Maak gerus ‘n musikale ‘date’ met Corné Louw
Corné Louw is nie iemand wat musiek op die gewone manier aanpak nie. Sy eerste enkelsnit en ook die titelsnit van sy splinternuwe album, Date Night, het weke lank in die Nr.1-posisie op trefferparades landswyd gepryk. Date Night is ’n vars en moderne Country-popsnit wat lekker is om na te luister en laat mense van regoor die land se voete onwillekeurig jeuk om op die dansvloer uit te kom. Die liedjie, wat …

Corné Louw is nie iemand wat musiek op die gewone manier aanpak nie. Sy eerste enkelsnit en ook die titelsnit van sy splinternuwe album, Date Night, het weke lank in die Nr.1-posisie op trefferparades landswyd gepryk.
Date Night is ’n vars en moderne Country-popsnit wat lekker is om na te luister en laat mense van regoor die land se voete onwillekeurig jeuk om op die dansvloer uit te kom.
Die liedjie, wat deur Corné, Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf is, vind aanklank by enigiemand wat in ’n verhouding is en herinner paartjies
daaraan om vir mekaar tyd te maak in vandag se gejaagde lewe.
“Die enkelsnit beteken vir my baie, want dit het met my en my vrou gebeur vandat ons twee wonderwerkies gebore is. ’n Tweeling hou ons heeltemal weg van die dinge wat ons as ’n paartjie altyd saam gedoen het. Maar ons verruil hulle vir niks,” sê die sanger.
Date Night is ook die titel van sy debuut-album en spog met dertien lekkerluister kuierliedjies in sy kenmerkende moderne Country-popstyl.
Volgens Corné is die album geïnspireer deur sy vrou en kinders en wou hy oor alledaagse gebeurtenisse skryf en ’n storie vertel: “Ek wou iets uitbring wat inspireer en wat betekenis het,” sê hy. Hoewel die meeste liedjies opgewekte ritmes het, is daar baie emosie in elke snit omdat baie daarvan staaltjies uit sy eie lewe vertel.
“Ek hoop dat elkeen wat na die album luister, hulle sal kan vereenselwig met die lirieke en dat dit weer vir hulle hoop en moed sal gee vir die toekoms.”
Corné woon in Langebaan aan die Weskus en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en hartlike
verhoogpersoonlikheid. Hy kom uit ’n familie vol musikante en musiek vloei hartlik deur sy are. Hy en sy pa speel nou nog so af en toe saam kitaar.
* Die nuwe album kan nou bestel word by www.Cornélouw.co.za en sal vanaf 30 Oktober ook op alle digitale platforms beskikbaar wees.



