Een se dood, ander se brood
MEYERTON. – Die Hoërskool Dr. Malan se droom om vyf krieket-titels in een seisoen te verower, het Saterdag in ‘n nagmerrie verander. Ondanks ‘n skitterende begin op sy tuisblad deur Dokkies se aanvangsboulers, het die eerste krieketspan van Heidelberg Volkskool vasgeskop om die eindstryd van die Sedibeng-liga oortuigend te wen. Die Dokkies is die seisoen reeds as die o.14, tweede span en …
MEYERTON. – Die Hoërskool Dr. Malan se droom om vyf krieket-titels in een seisoen te verower, het Saterdag in ‘n nagmerrie verander. Ondanks ‘n skitterende begin op sy tuisblad deur Dokkies se aanvangsboulers, het die eerste krieketspan van Heidelberg Volkskool vasgeskop om die eindstryd van die Sedibeng-liga oortuigend te wen.
Die Dokkies is die seisoen reeds as die o.14, tweede span en dogterskampioen gekroon, maar kampioenskapglorie was nie Saterdag vir sy o.15 en eerstespan beskore nie. In die eindstryd vir eerste spanne het Dokkies met aggressiewe boulwerk in die eerste beurt reeds toegeslaan, maar Volkies het danksy die breë wilgerlatte van Armand Marshall (40), Josh van Zyl (33) en Ethan Baird (33) daarin geslaag om 225 lopies aan te teken. Die Dokkies se kolwers het danksy goeie boulwerk deur Volkies se Michael Barnard (4/43 in 7 beurte) en Janco van Tonder (3/19 in 5 beurte) ‘n moeilike dag voor die penne beleef.
Op die Pierre Kok Oval by die Meyerton Krieketklub het die o.15-krieketspan van die Hoërskool Transvalia die Dokkies se bekerdroom nekomgedraai toe hy hom met vier lopies in die eindstryd geklop het. Transvalia met La Morgane Massyn (69), Rico Fourie (43), Ruben van der Merwe (40) en Anro Labuschagne (22) het Valia se kolfaanslag gelei om 221/10 aan te teken.
Vir die Dokkies het Juwan Thomas (3/41 in 9.4 beurte) en Didi Steyn (2/31 in ses beurte) goed gedoen om die leisels in te trek. Dokkies se Z. Strydom (84) het die Meyertonners se lopiejaagtog gelei, maar ongelukkig het die paaltjies te gereeld om hom geval. V. Swart (23) en R. Lottering (17) het hul bes gedoen om hom te ondersteun, maar ongelukkig het die dokkiejaagtog uit brandstof gehardloop.
Burger van Heerden (4/31 in 10 beurte) was een van Valia se uitblinkers wat die handrem met die goeie boulwerk opgetrek het.






