SportSport

Topfix SPL begin met ‘n knal

VEREENIGING. – Sit maar solank julle harde hoede op, want in Risiville gaan dit sesse reën. Die Laerskool Risiville se velde was Saterdag in rep en roer met die eerste wedstryde van die gesogte Topfix Sedibeng Premierliga wat daar plaasgevind het. Die toernooi bied jaarliks aan o.11- en o.13-spelers van regoor die Vaaldriehoek die kans om saam met die top spelers …

VEREENIGING. – Sit maar solank julle harde hoede op, want in Risiville gaan dit sesse reën. Die Laerskool Risiville se velde was Saterdag in rep en
roer met die eerste wedstryde van die gesogte Topfix Sedibeng Premierliga wat daar plaasgevind het. Die toernooi bied jaarliks aan o.11- en o.13-spelers van regoor die Vaaldriehoek die kans om saam met die top spelers van ander laerskole kragte saam te snoer in hul strewe na SPL-kampioenskapsglorie.
Die o.11-spanne van die Super Smashers en Netrec Bullets het SPL 2019 op ‘n gepaste noot afgeskop met ‘n naelbytkragmeting propvol opwinding.
Die Smashers het eerste gekolf en 108/8 in 20 beurte aangeteken, met Heinrich Janse van Rensburg wat ‘n stewige bydrae van 36 lopies van 38 aflewerings gemoker het om die draer van die o.11 Oranje Pet te word.
Juan Retief (2/7) en Nikhil Sukraj (2/14) van die Netrec Bullets het met ekonomiese boulwerk gesorg dat die verwagte lopietempo nie handuit ruk nie. Retief se puik boulontleding het die Blou Pet vir o.11’s aan hom besorg.
Sukraj (23) het goeie dubbelsyfers behaal, maar Dewet Grobler (2/13) en kie het die Bullets tot 103/7 beperk. In die tweede o.11-kragmeting van die dag het die High Speed Warriors die Sealtec Steamers met 47 lopies geklop. Danksy goeie kolfwerk deur André Verster (34) en Rico van der Walt (29) het die Warriors ‘n onaanvegbare 170/6 aangeteken. Zander Olivier (2/23) was die Steamers se voorste bouler. Die Steamers se lopiejaagtog is
deur Ruan Coetzee (25) gelei, maar ‘n goeie spanpoging deur die Warriors se boulers waarin Ewan Smit, Rico van der Walt, Matthew van Deventer en Jacques Nel elk twee paaltjies platgetrek het, het die Steamers se wenpoging laat ontspoor.
Die enigste o.13-wedstryd van die dag het ook alle verwagtinge oortref. Die Mega Thunders het ondanks ‘n puik kolfvertoning deur Deon Lombard (42*) die Rippers met ses paaltjies geklop. Die Rippers is deur Quinten van Staden (2/14) en Bruce Burke (2/18) tot 136/7 in 20 beurte beperk. Van
Staden het my sy puik ontleding die o.13-Blou Pet vir die Dag verdien. Die Thunders het daarna met vier balle en ses paaltjies in die bank die Rippers se telling verbygesteek, danksy kookwater kolfwerk deur Eduan van der Merwe (39* van 18 balle) en Nico Bresler (27*).
Vir die Rippers het Alex Badenhorst (2/20) hand en tand met die bal teruggeveg.

Die bepalings vir eerskomende Saterdag is: 8:00: Rippers vs Number Crunchers; 11:00: Mega Thunders vs Pirates en 14:00: Netrec Bullets vs High Speed Warriors.

 

 

Related Articles

 
Back to top button