Vrou sien hoe verloofde verongeluk
Motorfietsryer verongeluk, vingers na sandmyn-vragmotors gewys oor sand op pad VEREENIGING. – ’n Ongeluk waarin ’n motorfietsryer verlede Woensdagaand in Houtkopweg gesterf het, het inwoners se ongelukkigheid oor ’n sand- en steenmyn in die omgewing op die spits gedryf. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat Johan le Roux (38), ’n motorfietsryer van die Black Fangz-motorfietsklub, Woensdagaand, 16 Oktober dood is …
Motorfietsryer verongeluk, vingers na sandmyn-vragmotors gewys oor sand op pad
VEREENIGING. – ’n Ongeluk waarin ’n motorfietsryer verlede Woensdagaand in Houtkopweg gesterf het, het inwoners se ongelukkigheid oor ’n sand- en steenmyn in die omgewing op die spits gedryf. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat Johan le Roux (38), ’n motorfietsryer van die Black Fangz-motorfietsklub, Woensdagaand, 16 Oktober dood is toe hy agter in ‘n silwer Isuzu bakkie wat beeste vervoer
het, vasgery het.
Die padoppervlak waar die ongeluk gebeur het is besaai met sand wat glo van vragmotors van die myne af val. Volgens Kobie Hattingh (41), die oorledene se verloofde, het die ongeluk omstreeks 19:30 naby die brug oor die Kliprivier gebeur. Hattingh, wat die aand van sy dood agter Johan in ’n voertuig gery het, vertel:
“Johan het met sy motorfiets van Blackwoodstraat se rigting af gekom. Die voertuig wat beeste vervoer het en waarvan die ligte nie gewerk het nie, het oor die sperstreep in Johan se baan gery. Johan het die voertuig nie betyds gesien nie en daarin vasgery.” Hattingh het by navraag gesê sy weet nie of
sand ’n rol in die ongeluk gespeel het nie.
Die polisie kon ook nie bevestig of sand wel iets met die voorval te doen gehad het nie. Kapt. Fikile Funda, ’n polisiewoordvoerder in Vereeniging, het verlede week gesê dat dit uit die aard van die saak deel van die ondersoek vorm. Inwoners van Drie Riviere het onlangs ’n petisie teen mynbedrywighede reg op hul voorstoep onderteken.
Mynbedrywighede deur Prime Spot Trading 11 (Edms.) Bpk. ’n paar kilometer buite die stad, het inwoners rooi onder die kraag. Die mynaansoek is reeds op 22 Julie vanjaar ondanks hewige teenkanting, deur die departement van minerale hulpbronne toegestaan.
Inwoners meen die vragmotors mors daagliks sand op plaaslike paaie en plaas druk op bestaande infrastruktuur. Johan was ’n passer en draaier by Dorbyl Heavy Engineering in Vereeniging. Hy word oorleef deur sy ma, Mariaan Mocke, stiefpa Russel Mocke en kinders Jorina le Roux (13)
en Frik le Roux (10). Sy roudiens word Vrydag, 25 Oktober om 11:00 vanuit die ou Klipkerk in Vereeniging gehou.

in ’n ongeluk in Houtkopweg, Vereeniging, gesterf het toe hy met sy motorfiets in ‘n voertuig vasgery het.



