Christiaan is toe springlewendig en woon steeds in die Vaal
Christiaan se 'sitvlaksole' hou nou al 50 jaar!
Vaalweekblad berig hierdie week in Hoofstuk 8 van ons herdenkingsbylae oor mnr. Christiaan Groenewald wat in 1999 aan Vaalweekblad gedemonstreer het hoe hy met ‘n aangepaste motorband op sy sitvlak rondbeweeg omdat sy bene gestremd is. Hy het dit destyds sy “sitvlaksole” genoem.
Vaalweekblad noem in hierdie week se herdenkingsuitgawe dat ons hom sedert 2014 onsuksesvol probeer opspoor het en dat een van sy ou kennisse aan ons gesê het Christiaan is vermoedelik in die vroeë 2000’s oorlede.
Dit is toe nie waar nie!
Christiaan se kleinniggie, Yolandi Groenewald, het ons vandag gekontak met die blye nuus dat Christiaan steeds leef en in Riversdal (Midvaal) woon. Hy is nou ongeveer 74 jaar oud.
Yolandi gaan ons in verbinding met haar oom bring en Vaalweekblad sien daarna uit om binnekort ‘n nuwe onderhoud met dié uitsonderlike en positiewe man te doen sodat ons die foutiewe “doodsberig” kan regstel!



