Vyf honde by drie huise vergiftig
Inwoners word gewaarsku om op hul hoede te wees nadat die vergiftiging van honde weer in die Vaal en omliggende gebiede begin het om kop uit te steek. Verlede week is vyf honde by drie huise in Deneysville vergiftig. Om honde te vergiftig is ongelooflik wreed en baie hartseer en traumaties vir die eienaars.
Wat dit egter nog erger maak, is die feit dat dit met ‘n rede gedoen is. Dit is die voorloper van nog kwaad wat kan volg en inwoners word
gewaarsku om ekstra voorsorg te tref.
Mense word aanbeveel om hul honde eerder binne die huis te laat slaap vir hulle eie en hulle honde se veiligheid. Honde-eienaars kan selfs net ‘n deel van die kombuis, of ‘n ander vertrek vir die honde inrig wat afgeskort is van die res van die huis.
Indien jy glad nie jou hond in die huis wil laat slaap nie, sal dit goed wees om wel te weet hoe om die vergiftiging van honde te hanteer. Hier is ‘n paar wenke wat gevolg kan word indien jou hond gif ingekry het:
1. Bel dadelik ‘n veearts indien jy kan en neem die hond daarheen.
2. Terwyl reëlings getref word, of jy te ver van ‘n veearts is: maak seepwater aan (seeppoeier) – meng 1 teelepel met ‘n koppie lou water en laat jou hond dit drink sodat hy die gif kan uitbraak.
3. As jy geaktiveerde houtskoolpille (charcoal pille) het, gee minstens vier stukke daarvan vir jou hond in (maak fyn, maak met water en gee dit in). Eienaars word aanbeveel om geaktiveerde houtskoolpille te koop en sodoende gereed te wees om so ‘n voorval te kan hanteer. Dit kan by Dis-Chem of die meeste ander apteke gekoop word.
4. As jy nie houtskoolpille het nie, neem vier snye brood en verbrand dit in die oond of broodrooster.
Maak dit effens klam en gee dit stadig vir jou hond om te eet – dit sal die gif in die hond se maag absorbeer en neutraliseer. As jou hond dit uitbraak, gee dit weer, dit moet in sy maag bly. Die gewildste soorte gif wat deur die misdadigers gebruik word, is Two-step en rottegif.
As jou hond/kat rottegif ingekry het, is dit belangrik dat hulle met vitamien K of Kyrovite K in ‘n aar ingespuit word. Dit word ook aanbeveel om vitamien K-pille in jou huis te hou vir so ‘n noodgeval. Two-step is egter baie giftiger. Dit is ook bekend as Temik, wat in kunsmis is. Die verkoop en stoor hiervan word streng beheer, maar ongelukkig slaag misdadigers steeds daarin om daarvan aan te skaf.
![]()



