‘Mak’ dief steel voëltjies uit winkel
VANDERBIJLPARK. – “Die gemak waarmee die verdagte my kaste vol voëltjies gesteel het, laat my vermoed dat sy ‘n ou kalant is. Hierdie was nie die eerste keer wat sy gesteel het nie.” Só sê me. Maria Jardine, eienaar van Pets Kingdom, ‘n satellietwinkel in Pick n Pay Bedworthpark, nadat ‘n onbekende vrou op Sondag, …
VANDERBIJLPARK. – “Die gemak waarmee die verdagte my kaste vol voëltjies gesteel het, laat my vermoed dat sy ‘n ou kalant is. Hierdie was nie die eerste keer wat sy gesteel het nie.”
Só sê me. Maria Jardine, eienaar van Pets Kingdom, ‘n satellietwinkel in Pick n Pay Bedworthpark, nadat ‘n onbekende vrou op Sondag, 1 November, twee kaste vol seldsame voëltjies by die winkel gesteel het.
Op kringtelevisie kan duidelik gesien word hoe die vrou die hokke só vinnig en professioneel neem dat niemand in die omgewing onraad vermoed het nie.
Een kas het 11 baba-budgies bevat en die ander een drie baba-kokketiele.
“Ek is baie kwaad en bekommerd oor die voëltjies. Ek wonder of die dief ooit weet watter soort kos om die goedjies te gee.
“Hulle moet Avi-plus (stage 1) kry. Gee sy hulle enigiets anders, sal hulle doodgaan. Boonop was die kaste gesluit, so sy sal die glasvensters moet breek om die voëltjies uit te kry,” sê Maria.
“Die vrou is vol tatoeëerings op haar arms, haar rug en voete. Sy lyk soos ‘n inkleurboek,” sê sy.
* As iemand die verdagte op die foto herken of weet waar sy haar bevind, kan hulle Maria by 082 587 9924, of vir sersant Ngwenya by 083 537 4022 skakel.




