NWU Vaal sluit 2019 op hoë noot af
VANDERBIJLPARK. - Wanneer ‘n mens 75 persent van jou driejaar-regrukplan se doelwitte in een jaar behaal, het daar een van twee dinge gebeur. Of jou mikpunte was te laag, of jy het ‘n uitsonderlike seisoen beleef. In die geval van die NWU Vaal Rugbyklub is die tweede scenario hier van toepassing. Die klub het Vrydagaand tydens sy jaarlikse prysuitdeling sy spelers en afrigters vir hulle bloedsweet gedurende die seisoen vereer.
Volgens Shaun Meijer, voorsitter van die NWU Vaal Rugbyklub, is die dae wat spanne op die oewers van die Vaalrivier opdaag vir ’n maklike wen, verby.
Jan Wiegand, president van die Valke Rugbyunie, het ook sy trots oor die klub se welslae uitgespreek. “Ons wil graag binne die volgende paar jaar meer spelers van die klub sien wat in die Supersport Challenge en Curriebeker vir die Valke speel,” het Wiegand gesê. Volgens Sean Mccallaghan,
senior sportbestuurder van NWU Vaal, het hy en Shaun Meijer ‘n jaar gelede ontmoet en besluit om dinge om te draai.
“Ons het ‘n visie gehad. Ek het van die begin af geweet dat as ons hierdie omdraaiplan wil laat werk, net een persoon in die Vaaldriehoek daarin kan slaag en dit is Dewald Pieters. Ek het al my vertroue in jou gesit en jy het my nie teleurgestel nie,” het Mccallaghan gesê.
“Ek het julle die hardste maar lekkerste jaar van julle rugbyloopbaan belowe. Ek hoop ek het my belofte nagekom. ‘n Span kan sonder ‘n afrigter bestaan, maar afrigters kan nie sonder ‘n span bestaan nie,” het Pieters gesê. Hy het ook sy mede-afrigters Gunder Williamson, Peet van der Westhuizen, Christo Abrahams en Jorrie Jordaan vir hulle ondersteuning, kennis en harde werk bedank. Die klub se o.21-span wat deur Pieters en Williamson afgerig word, het vanjaar ‘n droomjaar beleef. Die studentespan het al twaalf sy wedstryde – uitsluitend vriendskaplike wedstryde – gewen om as die Valke o.21-kampioen gekroon te word. Die span het 642 punte in die twaalf wedstryde aangeteken en slegs 122 afgestaan en 100
drieë gedruk en slegs 15 afgestaan.
Die klub het ook verskeie o.19 en o.20-Curriebekerspelers opgelewer. Die klub se eerste en tweede span het ook albei tot die halfeindronde van die Volcano-reeks deurgedring en tweede in die Valke-liga geëindig. NWU Vaal se eerste span was ook die enigste span in die Valke wat Vereeniging Rugbyklub kon klop. Volgens Pieters behoort dit tot die verlede en hy en sy troepe en afrigter-korps is reeds hard besig met voorbereiding vir aanstaande seisoen.
Die spelers wat tydens die prysuitdeling met toekennings en trofeë weggestap het, is: o.21-Agterspeler van die Jaar: Webster Swanepoel; o.21: Voorspeler van die Jaar: Dylan Hepburn; o.21: Speler van die Jaar: Hugo Scott. Tweede span Voorspeler van die Jaar: Shawn Swart; Tweede span
Agterspeler van die Jaar: HB Koekemoer. Tweede span Speler van die Jaar: Marius Groenewald. Eerste Span Agterspeler van die Jaar: Kazlo Holtzhauzen; Eerste span Voorspeler van die Jaar: Victor Mbatha. Eerste span Speler van die Jaar: David Kleynhans; Vyftig wedstryde vir die eerste
span: Kazlo Holtzhausen; 100 wedstryde die eerste span: AJ Pretorius; Beste en Opkomende Speler van die Jaar: Shingirai Nyangani; Voorsitters Toekenning: Xander van der Walt. Spelers se Spelre van die Jaar: Rudolf Burger; NWU Klubspeler van die Jaar: Kazlo Holtzhauzen. Afrigters van
die Jaar: Dewald Pieters en Gunder Williamson.

Vrydagaand in Vanderbijlpark as NWU
Vaal se Klubspeler van die Jaar en
Eerste span Speler van die Jaar gekroon.
Hy het ook ‘n toekenning vir
vyftig eerste span wedstryde ontvang.
By hom is Shaun Meijer, voorsitter van
die NWU Vaal Rugbyklub.



