HealthNews

Dr. Ben het steeds ‘n passie om lewens te red

Hy streef dié doelwit steeds na in sy kliniek in Wonderfontein, Sasolburg, waar hy kolon- en maagdermkanaal-ondersoeke en prosedures doen. Sodoende kan 90% van dié tipe kanker voorkom word.

Dr. Ben Rautenbach was van jongs af ‘n man wat probleme proaktief wou oplos. As jong ingenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria het hy in die laat 1960s gedroom van die dag dat hy tegniese uitdagings sou kon aanpak en oplos.
Maar toe besef dié veelsydige jongman hy wou eintlik met mense werk, en besluit net daar om van rigting te verander en ‘n mediese dokter te word – ‘n verlies vir die ingenieurswese maar ‘n groot wins vir sy latere pasiënte. Hy het sy droom bewaarheid en mettertyd sy nagraadse studie voortgesit om in 1984 sy spesialiskwalifikasie as algemene chirurg te behaal.
Vandag is dr. Ben semi-afgetree, maar sy toewyding om lewens te help red, wil nie tot rus kom nie. Hy leef dié passie steeds uit in sy kliniek in Wonderfontein, Sasolburg, waar hy kolon- en maagdermkanaal-ondersoeke en prosedures doen. Op dié manier het hy reeds talle lewens gered omdat kolonkanker tot 90% verminder kan word as ‘n kolonoskopie van die onderste maagdermkanaal (kolon) betyds uitgevoer word. Poliepe wat mettertyd in kanker sou kon omsit, kan sodoende betyds opgespoor en in ‘n vinnige, veilige prosedure verwyder word.
Omdat dié soort kanker pynloos is en aanhou groei sonder dat ‘n mens daarvan weet, laat min mense hulself ondersoek – totdat dit dalk te laat is.
“Deur voorkomend op te tree, kan pasiënte baie pyn en trauma gespaar word – om nie eers te praat van die hoë koste van gevorderde kankerbehandeling nie,” sê dr. Ben.
Hy beskou dit as sy lewenstaak om die voorkoms van kanker te verminder en wil die publiek en veral geneeshere weer eens daarvan bewus maak dat mense nie moet wag totdat simptome ontstaan voordat ‘n “screening”-kolonoskopie gedoen word nie, want dan is dit gewoonlik al te laat.
Almal van 40 jaar en ouer behoort die ondersoek as voorkoming te laat doen. Indien daar niks gevind word nie, kan die kolonoskopie eers na 10 jaar weer gedoen word. Mense wat ‘n familielid het wat wel kolonkanker gehad het, moet die ondersoek selfs op ‘n jonger ouderdom as voorsorg laat doen.
* Enigiemand wat meer oor kolonkanker of kolonoskopie-ondersoeke wil uitvind, kan dr. Rautenbach en sy span by 081 357 7794 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button