NewsNews

‘Geen dokter kan uitvind wat fout is nie’

MEYERTON. - ’n Vrou van Meyerton sê sy ly aan ’n vreemde kwaal en geen dokter kon tot dusver uitvind presies wat met haar fout is nie.

Trudie Lombard (40) het haar nou tot Vaalweekblad gewend in ’n poging om antwoorde oor haar toestand te kry. “Ek was al by die Vereeniging Kopanong- hospitaal. Hulle (die dokters) het nog nie eintlik antwoorde vir my nie,” vertel sy moedeloos.

“Die dokters sê hulle weet nie wat fout is met my nie en wys my weg. Daar is snaakse goed wat deur my lyf gaan. Ek verloor my spraak. As ek myself weer kan kry, is ek ‘uit’.

“Somtyds neem dit 10 of 20 minute voor ek weer bykom,” vertel sy. Hoewel sy al jare lank aan die toestand ly, het dit die afgelope paar maande aansienlik versleg weens finansiële stres en dreigende afleggings by haar man, Herman Lombard (57) se werk.

Trudie meen die feit dat hulle onlangs weens agterstallige huur uit hul huurhuis gesit is en nou in ’n ander huis moes intrek, het haar gesondheid negatief beïnvloed. Trudie kry nou ook gereeld aanvalle wat sy “stuiptrekkings” noem. Trudie vertel ook dat sy somtyds kan voel hoe al die spiere in haar lyf inmekaartrek. Dit raak so erg dat dit haar heeltemal verlam en dat sy nie kan loop nie. Haar hand het sowat ’n maand gelede so erg inmekaargetrek dat sy nou sukkel om dit te beweeg.

Volgens Herman het hulle ’n verband om die arm gedraai in ’n poging om dit beter te maak. Hy het Trudie onlangs na die hospitaal geneem sodat dokters daarna kon kyk.

“Hulle het net gesê dit lyk nie of daar iets gebreek is nie en haar huis toe gestuur.” Volgens hom het hulle Trudie ook onlangs na die Chris Hani Baragwanathhospitaal geneem waar hulle bloed getrek het om te bepaal wat met haar fout is. Selfs daar kon hulle nie veel vir haar doen nie.
Volgens Trudie is sy jare gelede met bipolêre gemoedsteuring, ‘n siektetoestand wat gekenmerk word deur skommelinge in ‘n mens se gemoedstoestand, sowel as epilepsie gediagnoseer, maar ten spyte van die medikasie, kry sy steeds gereeld die aanvalle.
Sy vertel dat sy die eerste keer ‘n aanval gekry het toe sy na ’n nabygeleë supermark geloop het. “Ek het heeltemal inmekaargesak en toe ek wakker word was ek by die hospitaal,” vertel sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button