“Deur haar merkwaardige prestasies, en as ’n kollega en ’n vriend, is Elda se nalatenskap onvergeetlik. Dit sal waarskynlik nie in die toekoms nagedoen kan word nie. Sy was enig in haar soort en ons kan net daarna streef om in haar voetspore te volg.”
Só sê prof, Lloyd Conley, uitvoerende dekaan vir die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) oor dié uitsonderlike vrou, wat
in 2018 by CEO Global se Pan African-toekennings as een van Afrika se invloedrykste vroue in haar vakgebied aangewys is.
Prof. Elda het verlede Dinsdagoggend ‘n hartaanval tuis gehad en is deur haar seun, Hannes de Waal, na Mediclinic Vereeniging gehaas. Sy kon nie praat nie, het gesukkel om asem te haal en haar hart het twee keer in die ongevalle-eenheid gaan staan. Sy is onder verdowing geplaas en in die hoësorgeenheid opgeneem, waarna skanderings getoon het dat haar longe en brein weens die enorme hartaanval beskadig is. Volgens Hannes is prof. Elda Donderdag afsonderlik deur twee spesialiste breindood verklaar. Aangesien sy ‘n geregistreerde orgaanskenker was, het die proses om organe te
herwin en die masjiene af te skakel, Vrydag om 12:00 begin. Danksy prof. Elda se skenking het minstens een dogtertjie van 8 jaar wat aan ‘n lewersiekte ly, nou ‘n goeie kans op oorlewing. Prof. Elda het haar loopbaan in 2001 aan die NWU begin. Volgens die universiteit was haar passie vir die onderwys van die begin af duidelik.
Dit, saam met haar uitsonderlike werksetiek, het tot hoë nasionale en internasionale erkenning gelei. Sy het tot onlangs nog as waarnemende direkteur van navorsing by die navorsingseenheid Edu-HRight (Onderwys en Menseregte in Diversiteit) aan die Noordwes-Universiteit gedien. Tot met haar heengaan het sy haar uitstekende werk as ’n navorsingsprofessor in die Fakulteit Opvoedkunde voortgesit.
Haar navorsingswerk op die gebied van skooleffektiwiteit, veiligheid, sosiale wetenskappe, onderwysreg en wetgewing het ’n direkte impak op duisende skole regoor Suid-Afrika gehad.
Sy het verskeie boeke gepubliseer, insluitend ’n boek oor plaasskoolleerders se reg op basiese onderwys, die manier om skoolboelies te hanteer, die impak van onderwysers se emosionele intelligensie, die basiese menseregte van onderwysers, en die verhouding tussen onderwysers en leerders
in openbare skole.
Prof. Elda het haar man, Johan (Walla), in Junie verlede jaar in ‘n motorongeluk verloor toe twee voetgangers naby Vanderbijlpark voor hul voertuig beland het. Een van die voetgangers is met die impak dwarsdeur die voorruit geslinger en het Walla noodlottig getref.
Prof. Elda was die dogter van die bekende oud-onderwyseres van Vereeniging, mev. Denise Kocks, wat onlangs haar 90ste verjaardag gevier het.
Prof. Elda word buiten haar ma en haar seun Hannes, ook deur haar seun Louis, dogter Fransie Odendaal, skoonkinders, vyf kleinkinders en twee broers, Herman en Charl, oorleef.
Haar gedenkdiens word Vrydag, 15 November om 11:30 vanuit die Lux Deo NG-gemeente in Arconpark in Vereeniging, gehou.




