EntertainmentNews

#Varstrap – Almal wat lief is vir Sokkie-Sokkie, kom tree aan!

Wees deel van die grootste Langarmdans van die dekade!

(Voordat jy verder lees…. neem gerus deel aan hierdie maklike wedstryd en staan ‘n kans om ‘n Varstrap-CD te wen. Al wat jy moet doen is: stuur ‘n e-pos na rfichat@media24.com. Maak die “Subject” SOKKIE. In jou e-pos, vertel vir ons  by watter plek word die groot Varstrap-dans Saterdag gehou, sowel as jou naam, van, dorp waar jy woon en jou foonnommer)

 

Wat gebeur as van die land se gewildste Boeremusiekorkeste, ’n skreeusnaakse vermaaklikheidster en ’n gehoor wat hou van lekker skoffel op een groot plek saamkom? Jy kry die grootste opskop van die jaar, met paartjies wat ritmies oor meelbestrooide vloere seil tot die son op kom!

 

Carnival City bied op 23 November 2019 juis so ’n unieke geleentheid wanneer Klipwerf, Die Ventertjies, Kosie Venter en Fatman almal saam ‘dorp’ toe kom vir die grootste langarmdans-kuiers wat plaaslike dansliefhebbers nog ooit ervaar het.

 

VARSTRAP is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is meer as net ’n gewone konsert. Dit is ’n danspartytjie wat gelei word deur almal se gunsteling-kaalkopster en Dorp Toe-treffermaker, Fatman (oftewel Johan Brümmer van seisoen twee van The Voice SA), wat nie net sal sorg vir tonne grappies nie, maar ook hier-en-daar van sy eie dansmusiek met die gehoor gaan deel.

 

“Die doel van VARSTRAP is om een massiewe lekker langarmdans te hou, met Boeremusiek uit die boonste rakke. Om soos in die ou dae oor meelbestrooide vloere te skoffel en met baie oulike verrassings vir die hele familie,” verklap Bino Boshoff, die hoof van Afrikaanse musiek by Universal Musiek, wat verantwoordelik is vir die reël van hierdie unieke funksie. “Daar is baie vertonings waar die publiek kan sit en kyk of sokkiedans, maar nog nie ’n grootskaalse langarmdans soos hierdie een nie.”

 

Kaartjies vir die geleentheid is aanlyn beskikbaar op Computicket. Teen slegs R150 per persoon kan jy saam met jou geliefde (of dalk ’n potensiële nuwe liefde) vastrap op die maat van die SAMA-, Ghoema en SATMA-bekroonde Klipwerf Orkes se musiek, wat vir vyftig jaar al sinoniem is met die Afrikaanse kultuur, braaivleis en goeie tye en ook die hoofkonsert van die aand gaan wees.

 

“Alhoewel Klipwerf se Boeremusiek steeds een van die topverkopende genres in die land is, is daar bittermin dansgeleenthede hiervoor en dit is wat hierdie projek so uniek maak,” sê Boshoff.

 

Konsertgangers kan verder ook uitsien na voorvertonings deur die bekroonde musiekduo, Die Ventertjies, asook Kosie Beukes met sy Boerepompie.

 

“Die Ventertjies het pas ’n SATMA-toekenning ontvang, wat een van die grootste prestasies in die Boeremusiekmark is,” verduidelik Bino oor hulle keuse van watter kunstenaars om in te sluit. “Kosie Beukes is net twaalf jaar oud en het die land aan die gons oor sy konsertina-spel. Verder kan hy ook twaalf ander instrumente speel, so hy gaan beslis ’n aanwins vir die konsert wees.”

 

VARSTRAP, wat aangebied word in samewerk met kykNET NOU!, Pretoria FM, Belgravia en Buffelsfontein Brandewyn, sal om agt-uur die aand afskop en deure sal om sewe-uur open.

 

As langarm, lekker kuier en Boeremusiek jou hart laat vinniger klop, is hierdie beslis nie iets wat jy moet misloop nie! Bring jou vriende en familie saam en maak ’n onvergeetlike geleentheid daarvan. Daar is net ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar, so bespreek nou!

 

OM OP HOOGTE TE BLY VAN MUSIEKSAKE, VOLG UNIVERSAL OP:

Twitter: @Umusiek

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button