NewsNews

Dié Warriors veg vir ‘n voorspoediger Vaal

VANDERBIJLPARK. – Is jy pessimisties oor die toekoms van die Vaaldriehoek? Vergeet daarvan want ‘n weermag Warriors is besig met groot planne, en as dit van hulle afhang, gaan die gebied oor ‘n paar jaar bruis van ekonomiese vooruitgang. Aan die spits hiervan is dr. Danie Meyer, ‘n gekwalifiseerde stads- en streekbeplanner met meer as …

VANDERBIJLPARK. – Is jy pessimisties oor die toekoms van die Vaaldriehoek? Vergeet daarvan want ‘n weermag Warriors is besig met groot planne, en as dit van hulle afhang, gaan die gebied oor ‘n paar jaar bruis van ekonomiese vooruitgang.
Aan die spits hiervan is dr. Danie Meyer, ‘n gekwalifiseerde stads- en streekbeplanner met meer as 20 jaar ervaring in verskeie stadsrade sowel as by verskillende staatsdepartemente. Tans is hy verbonde aan die NWU-Vaal se Skool vir Ekonomiese Wetenskappe en leier van die navorsingsgroep Applied Local Economic Development (AppLED).
Die spelwisselaars wat nodig gaan wees om die Vaaldriehoek weer in ‘n suksesverhaal van ouds te omskep, is verlede week by die tweede Vaal Led Forum en werkwinkel, wat deur dr. Meyer en sy span georganiseer is, bespreek. Te oordeel aan die bekende name, munisipale topstrukture, die verskeidenheid groot nywerhede, klein sakelui, voormalige “wit” sakekamers sowel as hul swart eweknie Nafcoc wat almal verteenwoordigers gestuur het om hul menings te kom deel, was dié byeenkoms deur-en-deur ‘n sukses.
Dit was egter nie net die groot rolspelers nie maar veral ook die talle jongmense en “gewone” lede van die publiek se teenwoordigheid wat verblydend was, want hulle is deel van die “soldate-mag” wat deurslaggewend gaan wees vir die Vaaldriehoek se sukses.
“Enigiemand kan ‘n LED Warrior word – solank jy nie vra wat die Vaaldriehoek vir jou kan doen nie, maar wat JY vir die Vaal kan doen,” sê dr. Meyer.
Die spelwisselaars wat teenwoordig moet wees om die Vaaldriehoek van ‘n sukkelende gebied in ‘n ekonomiese skitterstreek te omskep, is deur dr. Meyer geïdentifiseer as, onder andere, dat die regering moet instem om die Gautrein in die Vaaldriehoek te laat draai; ‘n staatsgesubsidieerde blitsige busvervoerstelsel; ‘n spesiale ekonomiese “hub” reg langs ArcelorMittal; ‘n werkskeppingsentrum in een of meer van die Vaaldriehoek se townships; ‘n volledige opgradering van die gebied se rioolstelsel en ‘n sterker fokus op die omkering van water- en lugbesoedeling.
Indien die Gautrein en ‘n blitsige (rappid) busstelsel na die Vaaldriehoek gebring kan word, gaan dit ongekende voordele vir toerisme inhou. Stedelinge en hul gesinne sal byvoorbeeld in hul duisende vir ‘n hele dag se pret na die Vaaldriehoek gebring kan word waar hulle kennis kan maak met alles wat die streek aanbied: van byvoorbeeld watersport en ander avontuursport, ‘n casino-besoek en wildbesigtiging, tot ‘n kennismaking met Robotics, topgehalte winkels en selfs bierproeëry.
Die uiteindelike doel, sê dr. Meyer, is die dinamiese koördinering en implementering van ekonomiese planne om werkskepping te bevorder en die algemene lewensgehalte van inwoners te verbeter. “Die universiteit se rol as koördineerder is hier belangrik. Ons is neutraal en objektief en het reeds ‘n sterk vertrouensverhouding met ander rolspelers opgebou.”
‘n Memorandum waarin sakekamers, plaaslike munisipale rade en die NWU-Vaal hul verbind tot samewerking om die Vaaldriehoek om te keer in ‘n nuwe suksesverhaal, gaan waarskynlik nog voor die einde van die jaar onderteken word. Die universiteit gaan help om voorleggings op te stel sodat verteenwoordigers van al die partye dit gesamentlik aan die premier kan gaan voorlê. “Dit help nie ons gaan een-een nie. Gesamentlik kan ons meer positiewe druk uitoefen,” sê dr. Meyer.
Die volgende Vaal Led Forum vind oor drie maande plaas. Deelname is oop vir die hele gemeenskap. Individue, sakelui, gemeenskaps- en kerkleiers is almal ewe welkom om deel van hierdie positiewe drukgroep te word, nooi dr. Meyer. “Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer en vinniger sal ontwikkeling gebeur,” voorspel hy.
* Nog berigte hieroor in die Engelse bonuskoerant, Vaal Newsweek, ingesluit in hierdie uitgawe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button