Kom ons maak ‘Vuil Vanderbijl’ mooi!
Bekende plaaslike sakeman, Fanie de Jongh van die Palms-winkelsentrum in Vanderbijlpark, is ‘n kranige voorstander daarvan dat besigheidseienaars nie vergeefs vir die Emfuleni-munisipliteit moet sit en wag om ons dorp te verfraai of verbeter nie. Kyk ook uit vir die Palms se Kersfeesliggies, wat binne die volgende paar weke aangeskakel gaan word!
GEMEENSKAPSPROJEK:
Elsje Vermeulen
Om te sit en kyk hoe Vanderbijlpark al meer agteruitgaan is nie die antwoord
nie!
Verskeie besighede in die dorp het reeds ingespring en hul perseel, die straat
voor hul besighede en selfs die middelmannetjie opgeknap.
Wel gedaan, dit is al hoe verhoed kan word dat kliënte meer toeganklike en
groener “weivelde” gaan soek.
Bekende plaaslike sakeman, Fanie de Jongh, is ‘n kranige voorstander daarvan dat besigheidseienaars nie vergeefs vir die Emfuleni-munisipaliteit moet sit en wag nie.
Fanie is die eienaar van die bekende Palms-winkelkompleks in die dorp, asook direkteur van verskeie ander besighede. Die pragtige middelman en mooi strate sonder slaggate voor die Palms-winkelkompleks is te danke aan hom. Dit is ook waarskynlik die beste voorbeeld wat gebruik kan word om te wys hoe mooi die dorp se strate en besighede kan lyk indien almal inspring en saamwerk.
Om dié rede wil Ster en Vaalweekblad plaaslike eienaars aanmoedig om deel te wees van ’n opknappingsprojek. Neem ‘n foto van hoe dit nou lyk en weer een nadat die gebied voor die besigheid mooi gemaak is en stuur dit aan elsje.vermeulen@media24.com. Nie net sal ons daaroor berig en vir inwoners wys wat jou besigheid vir die omgewing gedoen het nie, maar ook bietjie meer oor jou besigheid met inwoners deel. Dit is ‘n wen-wen ooreenkoms vir besighede.



