NewsNews

Man gaan haal sy moordenaar

MEYERTON. – Familie en vriende van Wilhelm Pretorius (30), beter bekend as Willie, is verpletter na hulle die skoknuus ontvang het dat hy in sy woonstel in Rothdene vermoor is. Willie se ma, Fransie Pretorius, eienaar van Fransie se Tuisgebak in Meyerton, het aan Vaalweekblad gesê haar seun het op 2 November ’n WhatsApp-boodskap van …

MEYERTON. – Familie en vriende van Wilhelm Pretorius (30), beter bekend as Willie, is verpletter na hulle die skoknuus ontvang het dat hy in sy woonstel in Rothdene vermoor is.
Willie se ma, Fransie Pretorius, eienaar van Fransie se Tuisgebak in Meyerton, het aan Vaalweekblad gesê haar seun het op 2 November ’n WhatsApp-boodskap van ’n 17-jarige seun van Sonlandpark ontvang wat vra dat Willie hom moet kom haal.
Dié boodskap is in die middernagtelike ure gestuur. “Willie was ’n goeie mens en het altyd ander gehelp.
“Hy het die seun gaan haal, min wetend hy is op pad om sy moordenaar op te laai,” sê Fransie.
Net na 03:00 die oggend het die 17-jarige seun, wie se naam nie bekendgemaak mag word nie, Willie met ’n mes aangeval. Willie het by sy verhuurder se woonstel gaan hulp soek, maar het aan sy beserings beswyk.
Die seun het met Willie se voertuig op die vlug geslaan, maar twee dae later homself aan die polisie oorgegee.
Dit is glo nadat hy uitgevind het die polisie is op sy spoor.
Willie se vriend, Michael Spangenberg het die polisie gehelp met Willie se selfoonkodes en daarna het die ondersoek vinnig gevorder.
Gerugte doen egter die rondte dat Willie en sy vriende gekuier het en hard musiek gespeel het die aand voor sy dood.
Volgens Fransie is dit nie waar nie en het die vrou by wie Willie sy woonstel huur, bevestig dat daar geen sprake van harde musiek en ‘n partytjie was nie.
Daar is ook gerugte dat dit drie swart mans was wat Willie vermoor het, maar dit is glo ook ‘n wolhaarstorie.
Wat die 17-jarige seun se motief vir die moord was, is steeds ’n ope vraag. Fransie reken Willie wou die 17-jarige seun geestelik help, maar aan die einde het dit sy dood beteken. “Willie se Bybel het oop op die wasbak gelê oorkant die bank waar hy aangeval is en waar daar bloed was,” sê Fransie.
Hy het Shockwave, ’n organisasie wat onder meer dwelmverslaafdes en alkoholiste help, se klank behartig wanneer hulle uitreike doen.
Hy sou ook vroeg volgende jaar saam met Shockwave na Namibië toer.
“Musiek was sy lewe. Hy het werklik ’n passie vir klank en musiek gehad. Hy was ook goed met rekenaars.
“Ek gaan sy besoeke by die winkel vreeslik mis. Hy het elke aand na werk saam met my huis toe gery en hy was baie lief vir gesels,” sê Fransie.
Willie laat sy ma, Fransie, pa, Frik, broers Frikkie en Rudolph, suster, Elsie en skoonsuster, Monnieka, en swaer Johan agter.
Fransie en haar gesin bedank graag die familie en vriende wat hul bystaan deur hierdie tyd, asook Emmanuel Angels begrafnisondernemers.
“Ons waardeer elke boodskap, oproep en woorde van bemoediging.
Dit is hartseer dat mense stories opmaak en ons vra dat ons gevoelens gerespekteer sal word wanneer daar oor die voorval gepraat word,” sê Fransie.
* Willie se begrafnisdiens het op 6 November plaasgevind. Sy voertuig is intussen teruggekry en die 17-jarige seun het in die Vereenigingse streekhof verskyn. Hy is egter in sy ouers se sorg geplaas tot sy volgende hofverskyning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button